text
stringlengths
103
136k
id
stringlengths
10
16
Gereformeerde kerk Springs Die Gereformeerde kerk Springs is die enigste gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) op die Oos-Randse dorp Springs nadat die gemeente Springs-Oos, wat in Desember 1976 van die moedergemeente afgestig het, in 2012 daarby ingelyf is. Die Gereformeerde kerk Springs het op 10 Mei 1935 van Brakpan afgestig as die vierde Gereformeerde kerk aan die Oos-Rand. Op sy beurt het Brakpan in 1926 uit die oudste Gereformeerde kerk in dié deel van die Witwatersrand, Germiston (1905), ontstaan. Vroeër in 1935 het ook die Gereformeerde kerk Benoni hier tot stand gekom en net die volgende jaar die Gereformeerde kerk Boksburg. Springs se lidmate het aanvanklik eredienste in die NG kerksaal, die Vrymesselaarslosie, die ou Baptistekerk, die Dagbreek-skoolsaal en die stadsaal se eetsaal gehou. Op 26 Februarie 1936 besluit die kerkraad om 'n eie gebou op te rig in Geduld, wat die stadsraad aan die gemeente geskenk het. Deur die kerkraad se bemiddeling is die voorstad herdoop tot Paul Krugeroord. Die kerkraad het 'n tender vir die oprigting van die aanvaar, sonder 'n galery. Die boukommissie het aanbeveel dat 'n galery later ingebou kon word. Die totale koste sou £4 000 beloop. In Mei 1937 het dr. J.A. Schutte die hoeksteen gelê. Daaragter is 'n houer geplaas met daarbinne 'n Afrikaanse Bybel, die agenda van die jongste Sinode van die GKSA, 'n Almanak (dié kerkverband se jaarboek), 'n Kerkblad (sy lyfblad) en 'n naamlys van die kerkraad en boukommissie. Die inwyding het om 19:00 op Saterdagaand 9 Oktober 1937 plaasgevind. Die gebou se nok is met 'n dik laag lood bedek en die preekstoel is van siersteen gebou met 'n fluweelkleed. Aan die begin is Piet Bornman (waarskynlik 'n lidmaat) se huisorrel gebruik, maar in Januarie 1940 is 'n Hammond-orrel op 'n verhoog bokant die preekstoel geïnstalleer, wat later na die galery verskuif is. Ná 40 jaar is die Hammond-orrel deur 'n pyporrel vervang. Ook die preekstoel is nie meer die oorspronklike nie, want dit het plek gemaak vir 'n sierlike preekstoel van hout, terwyl die fluweelkleed vervang is deur houtsneewerk. Ook is die binnemure en galerypilare met houtpanele bedek. Dié gebou word sedert samesmelting aan 'n ander kerkverband verhuur. In 1959, die eeufeesjaar van die GKSA, het Springs 575 belydende lidmate gehad. Einde 1997 het hulle 253 getel en Springs-Oos s'n 261. Einde 2001 het die moedergemeente se lidmate toegeneem tot 264 en die Oos-gemeente s'n ietwat afgeneem tot 252, maar einde 2014, twee jaar nadat die gemeentes een geword het, was die totale getal belydende lidmate net 232.
afr_Latn_0
Gereformeerde kerk Springs-Oos Die Gereformeerde kerk Springs-Oos was die tweede gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) op die Oos-Randse dorp Springs maar is in 2012 by die die gemeente Springs ingelyf. Die oostelike wyke van die Gereformeerde kerk Springs, wat in 1935 van Brakpan afgestig het, het in Desember 1967 afgestig as die Gereformeerde kerk Casseldale. Die beskikbare bronne vermeld nie presies wanneer die naam Springs-Oos geword het nie. Kort ná afstigting, in Mei 1968, is begin beplan aan die bou van 'n eie kerk. Dié gebou is op 19 April 1970 in gebruik geneem nadat dit opgerig is volgens die bouplanne wat ook gebruik is vir die Gereformeerde kerk Pretoria-Booysen. In 1959, die eeufeesjaar van die GKSA, het die moedergemeente Springs 575 belydende lidmate gehad. Einde 1997 het hulle 253 getel en Springs-Oos s'n 261. Einde 2001 het die moedergemeente se lidmate toegeneem tot 264 en die Oos-gemeente s'n ietwat afgeneem tot 252, maar einde 2014, twee jaar nadat die gemeentes een geword het, was die totale getal belydende lidmate net 232. In sy hele 45-jarige bestaan het die gemeente net twee predikante gehad, van wie albei ook predikant van die moedergemeente was: dr. P.J.J.S. Enslin het voor sy koms hierheen Springs bedien (met 'n kort tussentyd as sendeling) en ds. L.H. van Schaik het van hier af na die moedergemeente gegaan.
afr_Latn_1
Gereformeerde kerk Benoni-Noord Die Gereformeerde kerk Benoni-Noord was die tweede gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) in die Oos-Randse stad Benoni, maar is in 2009 by die moedergemeente Benoni ingelyf. Die gemeente Benoni-Noord is op 30 November 1968 van Benoni afgestig. Aanvanklik het die gemeente kerk gehou in die skoolsaal van die Laerskool Rynfield. In April 1969 het die kerkraad met die stadsraad begin onderhandel vir 'n stuk grond tussen Struben- en Sarel Cilliersstraat. Eers ná ses jaar is die grond aan die gemeente afgestaan en is die argitek J. van der Ham van Pretoria gevra om 'n plan op te stel. Die kerkraad het hom opdrag gegee om eenvoud in gedagte te hou. B. du Toit is as bouaannemer aangestel en die koste beloop eindelik R146 000. Die eerste predikant, ds. G.H.J. Kruger, het die hoeksteen op 23 Oktober 1976 gelê en op 16 April 1977 is die gebou in gebruik geneem. In die begin het die gemeente 'n Ahlhorn-orrel gebruik, maar dit is in 1990 vervang deur 'n twee-manuaal-pyporrel. 'n Groot loodglasvenster is in die oostelike muur langs die orrel aangebring. Dit was oorspronklik van kleurryke glas, maar dié ruit het gebars toe 'n weerligstraal dit in 1996 tydens 'n storm tref. 'n Lidmaat, Ansia van Heerden, het 'n nuwe ruit ontwerp wat 'n Karoolandskap uitbeeld. Einde 2001 het die moedergemeente 251 belydende en 80 dooplidmate gehad en Benoni-Noord 270 en 93. Benoni was vakant en dr. D.J.S. Steyn was Noord se leraar. In 2009 het die Noord-gemeente by die moedergemeente ingeskakel sodat die gesamentlik gemeente teen 2015 550 belydende en 163 dooplidmate gehad het, onderskeidelik 29 meer en 10 minder as die samestellende dele 13 jaar vantevore.
afr_Latn_2
Reënspinnekop Die gewone reënspinnekop (Palystes superciliosus, voorheen P. natalius) is 'n spesie van jagspinnekoppe inheems aan Suider-Afrika. Dit is die mees algemene en wydverspreide spesie in die genus Palystes. Sy verspreiding strek van KwaZulu-Natal in die ooste, weswaarts deur die provinsies van Mpumalanga, Limpopo en Noordwes in die noorde, en die Oos-Kaap en Wes-Kaap in die suide. Dit het 'n liggaamslengte van 25-30 mm. Die spesie is die eerste keer deur Ludwig Koch beskryf in 1875. Sy gunstelinghabitat is kreupelhout en savannabos. Spinnekoppe in die Palystes genus staan algemeen bekend as reënspinnekoppe. Palystes-spinnekoppe sal dikwels huise betree voordat dit reën, waar hulle jag maak op geitjies, gewoonlik Afrogecko porphyreus in die Wes-Kaap, of Lygodactylus capensis in die oostelike dele van Suider-Afrika. Mannetjies word gereeld van Augustus tot Desember gesien, waarskynlik op soek na wyfies. Na die paringseisoen in die vroeë somer bou die wyfie 'n ronde eiersak van ongeveer 60-100 mm in grootte van sy, met takkies en blare daarin. Hierdie eiersakke word algemeen gesien vanaf November tot April. Die wyfie bou die sak oor 3-5 uur, waarna dit aggressief wag totdat haar spinnekoppe, wat binne die beskermende sak broei, ongeveer drie weke later uitkou. Wyfies sal ongeveer drie eiersakke bou oor hul twee jaar lewens. Baie tuiniers word gedurende hierdie tydperk deur beskermende Palystes-ma's gebyt. Die grootte van hierdie spinnekoppe, gekombineer met die geel en swart band op die onderkant van die bene wat blootgestel word wanneer die spinnekop in gevaar kom, gee hulle 'n vreeslike voorkoms. 'n Eksperiment is in 1959 gedoen waar 'n Palystes superciliosus 'n volwasse marmot op die neus byt. Die marmot het binne 7 minute gesterf, wat gelei het tot 'n oortuiging dat die spinnekop se gif gevaarlik was. Nog verdere navorsing met verdoofde marmot het getoon dat die oorspronklike marmot eintlik aan skok gesterf het, eerder as gevolg van die spinnekop se gif. Die gewone reënspinnekop se byt is nie gevaarliker as 'n bysteek vir mense nie. Die byt veroorsaak 'n brandende sensasie, asook swelling wat vir 'n paar dae duur. Dit herstel egter spontaan en volledig.
afr_Latn_3
Gereformeerde kerk Krugersdorp Die Gereformeerde kerk Krugersdorp is die oudste gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) op die Wes-Randse dorp Krugersdorp en sedert 1986, toe dit 90 jaar oud was, die enigste van die twee gemeentes aan die Witwatersrand uit die 19de eeu wat steeds bestaan. Die Gereformeerde kerk Johannesburg is net 'n maand ná Krugersdorp gestig, op 23 Mei 1896, maar het ná 'n paar gedaantewisselings in 1986 ontbind. Een van die twee ander Gereformeerde kerke op die dorp, Krugersdorp-Oos, is by GK Krugersdorp ingelyf. Krugersdorp-Wes bestaan nog selfstandig.
afr_Latn_4
Kinderlê Die Kinderlê-monument by Steinkopf in die Noord-Kaap gedenk 'n massamoord op Nama-kinders. In die middel van die 19de eeu was die streek rondom die sendingstasie by Steinkopf in 'n ernstige droogte vasgevang. Gevolglik het verskeie Nama-gesinne met hul vee weggetrek na 'n bron ongeveer 12 km noordoos van die dorp. Op 'n Sondag in 1867 toe die volwassenes 'n kerkdiens op Steinkopf bygewoon het, is die Nama-kamp deur 'n groep Khoi binnegeval. Met pyl en boog is 32 Nama-kinders, hul oppassers en selfs die honde gedood. Die plek van die massagraf is met 'n klein grafsteen gemerk en staan bekend as Kinderlê. Op 30 Junie 2003 is 'n verdere gedenkteken op hierdie plaaslike erfenisterrein onthul.
afr_Latn_5
Mosesetjane Mosesetjane is 'n nedersetting in Mogalakwena Plaaslike Munisipaliteit, Waterberg-distriksmunisipaliteit in die Limpopoprovinsie, Suid-Afrika
afr_Latn_6
Sterkwater Sterkwater (ook bekend as Ga-Pila) is 'n nedersetting in Mogalakwena Plaaslike Munisipaliteit, Waterberg-distriksmunisipaliteit in die Limpopoprovinsie, Suid-Afrika
afr_Latn_7
Lyden Lyden is 'n dorp in Mogalakwena Plaaslike Munisipaliteit, Waterberg-distriksmunisipaliteit in die Limpopoprovinsie, Suid-Afrika
afr_Latn_8
Kyk na die sterre Kyk na die sterre is 'n Afrikaanse rolprent wat in 1960 vrygestel is. Die regisseur was Kappie Botha (1917-1997). Die storie is deur Norval Geldenhuys geskryf. Die hoofrolle is deur Elma Marais, Gerrit Wessels en Herman Steytler vertolk.
afr_Latn_9
Eseldrift Eseldrift is 'n nedersetting in Mogalakwena Plaaslike Munisipaliteit, Waterberg-distriksmunisipaliteit in die Limpopoprovinsie, Suid-Afrika
afr_Latn_10
Mahwelereng Mahwelereng is 'n township in die Waterberg-distriksmunisipaliteit in die Limpopoprovinsie van Suid-Afrika. Dit is ongeveer 2 km van Mokopane (voorheen Potgietersrus) geleë.
afr_Latn_11
Matsitsileng Matsitsileng is 'n nedersetting in die Waterberg-distriksmunisipaliteit in die Limpopoprovinsie van Suid-Afrika. Dit is ongeveer 100 km noordwes van Polokwane en Mokopane geleë.
afr_Latn_12
Lys van Gereformeerde kerke in Suid-Afrika 'n Lys van al die steeds bestaande gemeentes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Vir dié wat ontbind het, sien Lys van ontbinde gemeentes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.
afr_Latn_13
Gereformeerde kerk Johannesburg-Oos Die Gereformeerde kerk Johannesburg-Oos was, soos die naam aandui, 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die ooste van Johannesburg. Lidmate het gewoon in die oostelike voorstede van die Goudstad, waaronder Troyeville, Jeppestown, Kensington, Malvern, Belgravia, Judith's Paarl en Bezuidenhoutsvallei. Dit was een van ses Gereformeerde kerke wat die Goudstad se naam gedra het, van wie vyf tussen 1986 en 1997 ontbind het, en een, Johannesburg-Melville, in 1997 saamgestel uit die ontbinde Johannesburg en dele van Johannesburg-Noord, nog tot 2002 bestaan het, toe dit ingelyf is by Randburg-Oos. Sedert 2002 is Johannesburg-Suid dus al gemeente met die stad se naam as deel van die gemeentenaam.
afr_Latn_14
Engelsman se graf (Merweville) Die Engelsman se graf by Merweville herdenk die slagoffers van die Tweede Vryheidsoorlog uit die Koup en die Moordenaarskaroo. Net buite die dorp in die rigting van Prins Albertweg (op die N1 nasionale pad), 100 m van die pad tussen doringbome en langs die Koedoeskloof dui 'n klein grafsteen en 'n marmerkruis die graf aan van luitenant Walter Oliphant Arnot. Arnot het in Maart 1900 uit Australië gekom om die Britte in hul oorlogspoging by te staan. Op sy verkenningstogte in die omgewing van Merweville het hy die Afrikaanssprekende boere goed leer ken en 'n begrip vir hul standpunt in die oorlog ontwikkel. Dit het voorgekom of hy met die vyand geheul het. Die gevolg was dat hy op 16 April 1902 selfmoord pleeg en 'n vrou en vier kinders in Australië agterlaat. Arnot is begrawe waar hy gesterf het. Sy vrou het gereël vir die oprigting van die grafsteen en die inwoners van Merweville het onderneem om die graf te onderhou.
afr_Latn_15
Engelsman se graf (Clanwilliam) Die Engelsman se graf in die Cederberge noordwes van Clanwilliam getuig van 'n skermutseling tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Luitenant Graham Vinicombe Winchester Clowes van die Gordon Highlanders het op 30 Januarie 1901 hier gesneuwel toe die Britse troepe onsuksesvol probeer het om te verhoed dat Boere-magte onder genl. Jan Smuts verder suidwaarts die Kaapkolonie binnetrek. Clowes se familie het met groot moeite en onkoste 'n grafmonument daar laat oprig met die opskrif Brave and True. Dit lê hoog in die Pakhuispas naby die afdraaipad na Wupperthal.
afr_Latn_16
Ryp Ryp is 'n wit neerslag wat soms op gras, struike en voorwerpe soos dakke, hekke en motors aangetref word. Dit ontstaan by temperature onder nul grade celsius as gevolg van die oorgang van waterdamp in ys. Ryp ontstaan by voorkeur tydens 'n rustige, helder nag op voorwerpe wat gou warmte verloor deur uitstraling na die ruimte. Sodra die temperatuur van die voorwerp onder vriespunt daal, gaan die waterdamp direk oor in yskristalletjies, bv. op die raam van buite geparkeerde motors na 'n koue winter nag. Hierdie proses staan bekend as (ver)ryping of desublimering. Ryp kan ook ontstaan deurdat die waterdamp by afkoeling eers as dou neerslaan en daarna vries. Ryp het 'n kristalagtige struktuur, meestal in die vorm van naalde, skubbe, waaiers of vere, afhanklik van die vogtigheid van die lug, die temperatuur, die warmtekapasiteit en warmtegeleiding van die voorwerp waarop dit neerslaan asook die temperatuur en beweging van die lug. Ryp kan ook ontstaan deur kapillêre werking, veral in die geval van plante of grond. In dié geval onttrek 'n yskristal water uit klein kanaaltjes, waardeur die ys kristal van binneuit aangroei.
afr_Latn_17
Tiekie 'n Tiekie (ook bekend as 'n trippens) is 'n klein silwermuntstuk met die waarde van drie pennies (geskryf as 3d). Dit was 'n betaalmiddel in Suid-Afrika tot die ingebruikneming van die desimale geldstelsel in 1961. Op die muntstuk was drie bondels hout en 'n protea afgebeeld. Die herkoms van die woord is onseker, maar dit is moontlik afgelei van die Nguni-woord tiki vir klein of die Maleise woord tiga vir drie. Daar is ook teorieë wat dit verbind met die pataca (Portugees) of die Franse patac. Suid-Afrikaanse Engels het die woord tickey aan Afrikaans ontleen. Bekende versamelmunte is die Sammy Marks-tiekies. Die Paul Kruger-tiekie van 1897 het ook versamelwaarde. Weens die Groot Depressie is daar in 1931 slegs 128 tiekies gemunt en daarom is die 1931-tiekie ook gewild onder versamelaaars. In Afrikaans het die woord "tiekie" (gewoonlik met die betekenis van klein) gelei tot samestellings soos tiekiedraai ('n volksdans), tiekieboks (telefoonhokkie) en langtiekie ('n soort onwettige gebruik van die betaaltelefoon) sowel as die uitdrukkings "'n motor wat op 'n tiekie kan draai" en "as 'n mens vir 'n tiekie gebore is, word jy nooit 'n sikspens nie". Eric Hoyland, 'n geliefde klein sirkushanswors in Suid-Afrika oor verskeie dekades in die 20ste eeu, het die verhoognaam Tiekie (Tickey) gehad. Ander name vir ou geldeenhede in die Suid-Afrikaanse geskiedenis is die riksdaalder, pond, sjieling, pennie, floryn, halfkroon, kroon, ghienie, sikspens, oulap, stuiwer, bokstert en oortjie. Die 3d-munt was 'n Britse erfenis en is in verskillende ander lande van die Britse Ryk en latere Statebond gebruik, waaronder Brittanje self, asook Australië en Nieu-Seeland. Dit is daar die threepence genoem, wat op verskillende maniere uitgespreek is. In Suid-Afrikaanse Engels is dit thrupence (soos in thrah-pins) uitgespreek, wat as 'n sinoniem vir tickey in die spreek- en skryftaal gegeld het.
afr_Latn_18
Onverwacht, Limpopo Onverwacht is 'n voorstad van Lephalale in Waterberg-distriksmunisipaliteit in die Limpopoprovinsie van Suid-Afrika. In die 2011 Sensustabelle word Onverwacht as subplek 978038004 Lephalale Ext16 gelys.
afr_Latn_19
Los Hermanos Los Hermanos is 'n rockgroep van Rio de Janeiro, Brasilië. Die groep is in 1997 gevorm deur Marcelo Camelo (koor / kitaar), Rodrigo Amar (kitaar / sang), Rodrigo Barba (tromme) en Bruno Medina (klawerborde / bas-klawerbord). Tans is hulle op 'n uitgebreide hiatus en treë slegs sporadies op. Alhoewel die groep Brasiliaans is, is die naam Spaans vir "die broers", wat "Os Irmãos" in Portugees sou wees.
afr_Latn_20
Gereformeerde kerk Johannesburg-Sentraal Die Gereformeerde kerk Johannesburg-Sentraal was 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in, soos die naam aandui, die middestad en omstreke van die Goudstad. Weens die drastiese afname in die getal Gereformeerdes in die westelike, sentrale en oostelike gebiede van Johannesburg het die gemeentes Johannesburg-Sentraal, Johannesburg-Mayfair en Johannesburg-Oos in die stad se eeufeesjaar (1986) saamgesmelt as Johannesburg (herstig). Dié gemeente het in 1997 met Johannesburg-Noord saamgesmelt en tot 2003 as Johannesburg-Melville bekendgestaan, toe dit ontbind en deel geword het van Randburg-Oos, wat die volgende ingelyf is by Randburg.
afr_Latn_21
Gereformeerde kerk Johannesburg-Noord Die Gereformeerde kerk Johannesburg-Noord was 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die noordweste van die Goudstad met sy kerkgebou in die voorstad Melville.
afr_Latn_22
Gereformeerde kerk Johannesburg-Wes Die Gereformeerde kerk Johannesburg-Wes was 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in, soos die naam aandui, die weste van die Goudstad met sy kerkgebou in die voorstad Brixton.
afr_Latn_23
Gereformeerde kerk Johannesburg-Suid Die Gereformeerde kerk Johannesburg-Suid is die laaste gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika wat die naam van die stad Johannesburg bevat nadat vyf ander kerke met dié naam ontbind het, naamlik die Gereformeerde kerk Johannesburg (later genoem Johannesburg-Mayfair en eindelik Johannesburg-Melville), Johannesburg-Noord, Johannesburg-Oos, Johannesburg-Sentraal en Johannesburg-Wes. Die Gereformeerde kerk Johannesburg-Suid is amptelik afgestig op 10 Januarie 1931, dieselfde dag waarop die gemeente se eerste kerkgebou, in Turffontein, in gebruik geneem is. Die indertydse minister van lande, P.G.W. Grobler, het die hoeksteen op 13 September 1930 gelê. Die 30 kerkbanke, twee Nagmaalstafels en die preekstoel is aangekoop teen £480. Die kerk is in 'n kruisvorm ontwerp op voorstel van die ds. W.J. de Klerk, wat ook die stoel op die preekstoel geskenk het. Volgens die hoeksteen was die argitek die Brits gebore Henry Rowe-Rowe (1870–1932). Weens die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945) kon die orrel eers in 1949 in gebruik geneem word. Dit was een van die eerste plaaslik vervaardigde orrels en word vandag nog gebruik, hoewel in die kerkgebou van die destydse Gereformeerde kerk Klipriviersberg in Oakdene, wat ontbind het en toe by Johannesburg-Suid ingeskakel het. H. Hoeksema het die doelmatige kerksaal ontwerp en die bouaannemer was A.L. Naudé. Dr. I.J. van der Walt het die saal se hoeksteen op 9 Maart 1957 gelê. Dit is indertyd as een van die land se beste kerksale beskou. Die gemeente het dié saal, met sy sitplek vir 450 mense en wat die naam Postma-saal gekry het, tot November 2004 gebruik, toe dit aan 'n ander kerkverband verkoop is. Nadat Klipriviersberg ontbind en by Johannesburg-Suid ingeskakel het, het die gemeente uit sy kerkgebou in Turffontein oorgetrek na eersgenoemde se kerkgebou in die baie rustiger voorstad Oakdene. Die preekstoel en orrel is terselfdertyd na die Oakdene-kerk verskuif. Dié gebou is ontwerp deur André Venter en is op 8 September 1984 ingewy. Ds. R. Maré het die gedenkplaat onthul. Dit bied sitplek aan 250 kerkgangers, meer as twee keer die getal oorblywende belydende lidmate in Johannesburg-Suid.
afr_Latn_24
Westoe Westoe is 'n besondere huis in die Kaaps-Hollandse boustyl. Die huis is geleë in Westoestraat, Observatory (Kaapstad) en sy erf grens aan die suidekant aan Coornhoop. Tot 1785 was die terrein deel van Coornhoop. Toe het Helena Jonasse, die weduwee van Claas Coert, daardie deel van haar grond bemaak aan drie mense. Die sentrale deel word toe eiendom van Francois Pieter de Necker en hy bou die opstal bekend as Westoe, 'n H-vormige huis met ses gewels, dik mure en vloere en plafonne van geelhout. In die 19de eeu is die huis dikwels verbou. Mynmagnaat Hendrik Wilhelm Struben (1840–1915), later bekend as Henry William, het die huis as aftreehuis gekoop, die gewels laat afbreek en die vensters gemoderniseer. Na sy vertrek is Westoe selfs as losieshuis gebruik. Vanaf 1958 is die huis grondig gerestoureer en puik gemeubileer. Tans spog die gebou weer met sy unieke Kaaps-Hollandse gewels. In 1968 is Westoe tot monument verklaar.
afr_Latn_25
Abū Nuwās Abū Nuwās al-Ḥasan ibn Hānī al-Ḥakamī (ca 750 - 810), of net Abū Nuwās (Arabies: ابو نواس‎; Persies: ابو نواس‎‎, Abū Novās) was 'n Arabiese digter. Vandag word hy as een van die grootste klassieke Arabiese en Persiese digters beskou. Tydens sy lewe het hy 'n meester van al die hedendaagse genres van Arabiese poësie geword. Volgens die verhale van Duisend-en-een-nag, is hy die metgesel van die Kalief Harun ar-Rashid.
afr_Latn_26
Ashoka die Grote Ashoka die Grote (ook Ashok) was 'n groot heerser van die Mauryaanse Ryk wat van 268 tot 231 v.C. regeer het. Sy naam beteken "Hy wat deur die gode geliefd is en wat vriendelik met almal is". Ashoka word dikwels een van Indië se grootste heersers genoem. Ná baie militêre oorwinnings het hy oor 'n paar van die grootste dele van die hedendaagse Indië regeer. Hy het 'n oorlog teen die koninkryk Kalinga geveg, waarin meer as 200000 mense dood is. Omdat Ashoka deur sy wrede oorwinning geskud was, het hy besluit om 'n Boeddhis te word en met vrede sy ryk te regeer. Om dit te doen het hy 'n paar hospitale vir diere en mense geskep. Hy het ook rusgebiede vir moeë reisigers langs paaie geskep en daarna putte in talle dorpe gegrawe; dit is moontlik om 'n lewensbeskrywing oor Ashoka die Grote te skryf omdat daar verskeie inskripsies op rotse en pilare is wat sy lewensloop op 'n akkurate vlak beskryf.
afr_Latn_27
Gereformeerde kerk Roodepoort Die Gereformeerde kerk Roodepoort was 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die Wes-Randse stad Roodepoort.
afr_Latn_28
Anys Anys (Pimpinella anisum) is 'n blomplant in die Apiaceae-familie inheems aan die oostelike Middellandse See-streek en Suidwes-Asië. Die geur toon ooreenkomste met 'n paar ander speserye, soos steranys, vinkel en soethout ("drop"). Anys is 'n kruidagtige eenjarige plant wat tot 'n meter of hoër groei. Die blare aan die basis van die plant is eenvoudig, 1-5 cm lank en vlak gelob, terwyl blare hoër op die stingels veeragtig geveerd is, verdeel in talle klein pamflette. Die blomme is wit, ongeveer 3 mm in deursnee, wat in digte skerms voorkom. Die vrug is 'n langwerpige, droë skisokarp, 3-6 mm lank, gewoonlik "anys" genoem. Anys dien as voedselplant vir die larwes van sommige Lepidoptera-spesies (skoenlappers en motte), insluitend die kalk-gespikkelde wurm en aalwurm.
afr_Latn_29
Gereformeerde kerk Wilropark Die Gereformeerde kerk Wilropark is die jongste gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die Wes-Randse stad Roodepoort. Wilropark het op 7 Junie 1981 van die Gereformeerde kerk Witpoortjie afgestig wat op sy beurt op 8 Oktober 1972 van die Gereformeerde kerk Roodepoort afgestig het, 'n dogtergemeente van die Gereformeerde kerk Florida. Wilropark is dus 'n agterkleindogter van die Gereformeerde kerk Krugersdorp, wat op 25 April 1896 as die eerste Gereformeerde kerk aan die Witwatersrand gestig is, 'n maand voor die Gereformeerde kerk Johannesburg. In 1983 het die kerkraad die argitek Albert Monteith, wat ook verantwoordelik was vir die Gereformeerde kerk Brackenhurst, opdrag gegee om 'n doelmatige kerkgebou met sewe katkisasielokale te ontwerp. Vir dié doel het die gemeente 'n erf aangekoop wat uitkyk op 'n natuurreservaat. Op 24 Augustus 1985 is Wilropark se kerkgebou amptelik in gebruik geneem. Weens 'n geldtekort kon die gemeente nie hul planne vir 'n klok, orrel en die katkisasielokale uitvoer nie, maar hulle kon wel 'n tweedehandse Ahlbon-orrel aankoop, wat in 1994 plek gemaak het vir 'n elektroniese Allen-orrel. Dié instrument se luidsprekers is in die vorm van 'n kruis voor in die kerk aangebring.
afr_Latn_30
Gereformeerde kerk Witpoortjie Die Gereformeerde kerk Witpoortjie is die tweede jongste gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die Wes-Randse stad Roodepoort. Die gemeente het op 8 Oktober 1972 van die Gereformeerde kerk Roodepoort afgestig, wat op sy beurt in 1957 van die Gereformeerde kerk Florida afgestig het, 'n dogtergemeente van Krugersdorp (1898), die oudste Gereformeerde kerk aan die Witwatersrand. Witpoortjie se kerkraad het onmiddellik begin beplan vir kerkbou. Dienste is eers in die Laerskool Dr. Havinga gehou terwyl die kerkgebou in aanbou was. Dié gebou is opgerig volgens gewysigde planne van die Gereformeerde kerk Alberton-Wes. Lucas van der Schyff het die strukturele planne opgestel en die bouaannemer was ene Wilken. Die verandering aan Alberton-Wes se plan het die aanbou van 'n kerksaal behels. Dié gebou is op 2 Augustus 1975 amptelik ingewy.
afr_Latn_31
Gereformeerde kerk Ontdekkers Die Gereformeerde kerk Ontdekkers is een van vyf (in 2015) gemeentes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika wat heeltemal of deels in die Wes-Randse stad Roodepoort geleë is. Ontdekkers het op 6 Augustus 1966 van die Gereformeerde kerk Florida afgestig in die gebied Discover, tussen Horison en Florida. Aanvanklik is die eredienste in die Laerskool Gustav Preller in Christiaan de Wetweg gehou. Die moedergemeente het gedeelte 139 van die plaas Vogelstruisfontein, een van die oorspronklike plase aan die Rand, aan die nuwe gemeente geskenk. Op hierdie plaas, in die ontluikende stad Roodepoort, het die predikant, ds. Hein Kruger, 'n melkkoei op die kerkerf aangehou. Die kerkraad het die plan van die Gereformeerde kerk Vryburg (ds. Kruger was by die oprigting van dié gemeente se kerkgebou betrokke toe hy leraar daar was van 1960 tot 1967) as uitgangspunt gebruik en die argitek Hartman van Pretoria aangestel om die bouterrein te beplan. Sy plan het voorsiening gemaak vir 'n kerkgebou met sitplek vir 500 kerkgangers, 'n konsistorie, kombuis en katkisasielokale. Die ontwerp word gekenmerk deur skerp lyne wat die oog na bo moet lei. 'n Lidmaat van die gemeente het 'n skaalmodel gebou wat moes dien as aansporing vir mense om by te dra tot die kerkkompleks se oprigting. Die sykante het die kenmerke lae mure met hoë, gekleurde vensters wat eie is aan die argitektuur van destyds, die sogenaamde tentstyl of kappiekerk. Wanneer lig deur die vensters val, gee dit die binnekant van die kerk 'n blou skynsel. Die glasmure het 'n klankprobleem geskep wat opgelos is deur 'n spesiale klankstelsel te laat aanbring. Nog 'n probleem wat eie is aan die tentstyl, oormatige sonlig deur die reusevensters, is opgelos deur klankabsorberende panele aan te bring om dit uit te hou. Die kerk is amptelik op 5 Junie 1971 ingewy, 'n maand en 'n dag voor die gemeente se vyfde verjaardag. Weens demografiese verskuiwings in dié deel van Roodepoort is Florida in 2003 by Ontdekkers ingelyf, nes die geval nege jaar later met die gemeente Roodepoort.
afr_Latn_32
Gereformeerde kerk Linden Die Gereformeerde kerk Linden is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die noordweste van Johannesburg.
afr_Latn_33
Gereformeerde kerk Delarey Die Gereformeerde kerk Delarey was 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, deels in Roodepoort en deels in Johannesburg, waarvan die naam in 1998 Bergbron geword het nadat Johannesburg-Wes en die Melville-gedeelte van die Gereformeerde kerk Johannesburg-Noord by Delarey ingelyf is.
afr_Latn_34
Gereformeerde kerk Bergbron Die Gereformeerde kerk Bergbron is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, deels in Roodepoort en deels in Johannesburg, wat in 1998 ontstaan het toe die gemeente Delarey se naam verander het nadat Johannesburg-Wes die Gereformeerde kerk Delarey ingelyf is.
afr_Latn_35
Nyabêla Nyabêla (1825/30 – 1902) in Afrikaans ook bekend as Niabel, was gedurende die negentiende eeu 'n opperhoof van die Ndzundza-Ndebele. Hy word onthou vir sy stryd teen blankes vir beheer oor sy stam se eie grondgebied.
afr_Latn_36
Fenegriek Fenegriek (Trigonella foenum-graecum) is 'n eenjarige plant in die familie Fabaceae, met blare wat uit drie klein eierrond tot langwerpige blaartjies bestaan. Dit word wêreldwyd verbou as 'n semi-droë gewas, en sy saad is 'n algemene bestanddeel in geregte van die Indiese subkontinent. Fenegriek word gebruik as kruie (gedroogde of vars blare), speserye (sade), en groente (vars blare en spruite). Sotolon is die chemiese bestanddeel wat verantwoordelik is vir die kenmerkende soet reuk van fenegriek. Kuboïedgevormde, geel tot oranje-gekleurde fenegrieksade kom dikwels voor in die kookkuns van die Indiese subkontinent. Dit word beide heel en verpoeier gebruik in die voorbereiding van piekels, groentedisse, daals en speserymengsels soos panch phoron en sambarpoeier. Hulle word dikwels gerooster om hul bitterheid te verminder en die smaak te verbeter.
afr_Latn_37
Gereformeerde kerk Bellville Die Gereformeerde kerk Bellville is die oudste gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die noordelike stadsgebiede van Kaapstad.
afr_Latn_38
Salmah Ismail Biduanita Negara Puan Sri Datin Amar Salmah binti Ismail, AMN beter bekend as Primadona Saloma (22 Januarie 1935 – 25 April 1983) was 'n Singapoers-Maleisiese sangeres, film aktrise en mode-ikoon wat in die laat 1950's beroemd geword het. Sy was die tweede dogter in haar gesin. Haar ouer suster was die aktrise Siti Mariam Ismail (skuilnaam Mariani) en aktrise-sangeres Aminah Ismail (skuilnaam Mimi Loma) is haar jonger suster. Saloma was die derde vrou van die talentvolle film akteur, regisseur, sanger, komponis en vervardiger Tan Sri Datuk Amar P. Ramlee. In haar vroeë loopbaan, was Saloma net vir haar lietjies en klein karakters se rolle wat sy in die 1950's films gespeel het. Nadat sy groter rolle in die films Azimat (1958) en Kaki Kuda (1958) gespeel het, begin sy om haar loopbaan as 'n film aktrise uit te brei. Sy het en verskeie films soos Seniman Bujang Lapok (1961), Ragam P.Ramlee (1964) en Ahmad Albab (1968) opgetree. Saloma is in 1978 met die titel Biduanita Pertama Negara (Eerste Nasionale Songbird) en in 1990 met die titel Puan Sri bekroon.
afr_Latn_39
Gereformeerde kerk Glencoe Die Gereformeerde kerk Glencoe was 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika op die dorp Glencoe in KwaZulu-Natal. Die Gereformeerde kerk Glencoe was met sy stigting in 1950 slegs die vierde gemeente van dié kerkverband in die destydse provinsie Natal. Vryheid is in 1897 gestig, hoewel daardie deel van die provinsie toe nog onder Transvaal geval het. In 1922 het Durban aan die beurt gekom en in 1925 Pietermaritzburg. In 1947 is Ladysmith gestig, en drie jaar later Glencoe. Selfs in die eeufeesjaar van die Gereformeerde Kerk (1959) was daar steeds net sewe kerke in Natal, nadat Noord-Durban in 1953 gestig is en Estcourt later in dieselfde jaar. In 1959 het die belydende lidmate van die Gereformeerde Kerk dan ook net 900 getel, vergeleke met die NG Kerk se sowat 25 200 'n jaar later (geen statistiek was beskikbaar in die Jaarboek van 1959 nie weens die ongesteldheid van die samesteller, ds. J.N. Geldenhuys, nie). Toe reeds het die NG Kerk 39 gemeentes in Natal gehad. Die dorp Glencoe is aangelê op die Voortrekkerleier Karl Landman se plaas. Reeds in 1948 het in die noorde van Vryheid twee wyke bestaan, met 'n eie wykskerkraad. Voorlopig is eredienste in huise van lidmate en die kerkgebou van die NG gemeente Glencoe gehou. Die eerste Gereformeerde kerkgebou is in 1950 in gebruik geneem. Dis ontwerp volgens die plan van die ou Voortrekkerkerkie in Pietermaritzburg, met 'n groot gewel voor waarteen 'n ingangsportaaltjie gebou is met 'n identiese kleiner gewel. Ds. D.F. Malan het die hoeksteen gelê. In 1972 het die kerkraad beplan vir 'n groter gebou nadat die oue te klein geword het. Toe reeds moes eredienste in die dorp se stadsaal gehou word. Die argitek van die nuwe kerk was T.N. van der Walt. Die gebou is op 28 Augustus 1976 in gebruik geneem nadat die gemeente as eienaarbouer opgetree het. 'n Mooi gebaar was toe susters van die gemeente besluit dat nie een 'n rok vir die inwyding sou koop nie, maar liewer die geld vir die boufonds sou skenk. Die mooi geskiedenis van die Gereformeerde Kerk op Glencoe het ongelukkig vroeg in die 21ste eeu tot 'n einde gekom toe die lidmaattal drasties afneem. Einde 1997 het Glencoe nog 75 belydende en 29 dooplidmate gehad en einde 2001 onderskeidelik 47 en 19, maar in die laaste jaar van sy bestaan, voor die gemeente in 2013 by Ladysmith ingelyf is, was daar net 12 belydende en twee dooplidmate oor.
afr_Latn_40
Gereformeerde kerk Ladysmith Die Gereformeerde kerk Ladysmith is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) op die dorp Ladysmith in KwaZulu-Natal. Die gemeentegrense het tradisioneel ook die dorpe Bergville, Colenso en omliggende gebiede ingesluit, maar vandat die Gereformeerde kerk Estcourt in 2010 ontbind het en Glencoe in 2013, sluit dit ook (van eersgenoemde gemeente) Estcourt, Mooirivier, Weenen, Winterton en (van laasgenoemde) Glencoe, Dundee en Dannhauser in. Ten spyte van al dié dorpe het Ladysmith se belydende lidmate einde 2014 net 79 (presies dieselfde as in die 1959, die GKSA se eeufeesjaar) getel en sy dooplidmate 15, vergeleke met die drie samestellende dele se totaal van 192 belydende en 57 dooplidmate einde 2001 en onderskeidelik 235 en 84 einde 1997. Die ontstaan van die Gereformeerde kerk Ladysmith is nou verweef met die geskiedenis van die Gereformeerde lidmate in Pietermaritzburg. Sedert die veertigerjare het steeds meer groei in die Natalse hoofstad plaasgevind. In 1943 besluit die kerkraad van die Gereformeerde kerk Pietermaritzburg om 'n boufonds te stig met die oog op die oprigting van 'n kerksaal vir die wyksgemeente van Ladysmith. Eers drie jaar later koop Pietermaritzburg 'n erf op Ladysmith en in Oktober 1947 stig die gemeente af as die derde Gereformeerde kerk in Natal, hoewel Gereformeerde kerk Vryheid ouer is, maar tot in die vyftigerjare onder Transvaal geressorteer het. Tydens die bediening van ds. E.J.G. Norval (1951–'52) is die nuwe kerkgebou ingewy. Prof. W.J. Snyman het die feesrede tydens dié geleentheid gelewer. Die gemeente kon dit eers in 1967 bekostig om 'n pyporrel te installeer nadat die vrouelidmate die geld daarvoor ingesamel het. In 1972, toe die lidmate van die Gereformeerde Kerk in Natal nog sterk toegeneem net, is die kerkgebou vergroot om sitplek aan 300 kerkgangers te bied. In dié tyd is ook 'n eie pastorie gebou. Weens die afname in die lidmate in dié deel van KwaZulu-Natal (soos trouens oral in die provinsie), het Estcourt in 2010 ontbind en Glencoe in 2013, waarna albei gemeentes se lidmate (die handjie vol wat oorgebly het) by Ladysmith ingeskakel het. Ten spyte hiervan het Ladysmith se belydende lidmate van 180 einde 2001 tot 79 einde 2014 afgeneem. Tydens die samesmelting van die Klassisse KwaZulu-Natal-Suid en -Noord het die gemeente op 12 Maart 2024 deel geword van die nuwe klassis.
afr_Latn_41
Gereformeerde kerk Estcourt Die Gereformeerde kerk Estcourt was 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika op die dorp Estcourt in KwaZulu-Natal, maar dit het ook die dorpe Mooirivier, Weenen en Winterton ingesluit.
afr_Latn_42
Gereformeerde kerk Vryheid Die Gereformeerde kerk Vryheid is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika op die KwaZulu-Natalse dorp Vryheid wat onder meer ook die dorpe Paulpietersburg (waar eens ook 'n Gereformeerde gemeente was), Babanango en Louwsburg insluit.
afr_Latn_43
Oribivlakte Die Oribivlakte is 'n plato tussen en by die samevloeiing van die Umzimkulurivier en die Mzimkulwanarivier in KwaZulu-Natal. Op groot skaal word met suikerriet geboer en daar is ook 'n kalkfabriek. Vanaf 'n twee meter lange uitstaande rots (van Tafelbergsandsteen) kan 'n skouspelagtige blik op die kloof van die Mzimkhulurivier verkry word. Italiaanse krygsgevangens het die toegangspad deur die kloof gebou.
afr_Latn_44
Karowe AK6 Die Karowe AK6 is 'n diamant wat in die Karowemyn in Botswana ontdek is. Die uitvoerende hoof van 'n Kanadese maatskappy Lucara Diamond Corporation, William Lamb, het die ontdekking van die diamant op 18 November 2015 aangekondig. Die diamant weeg 1111 karaat en is 65 mm x 56 mm x 40 mm groot. Groot, ongeslypte diamante se waarde is ongeveer $60,000 per karaat dus is die waarde van die Karowe AK6 ongeveer $ 66,66 miljoen. Ten tyde van sy ontdekking was die diamant die tweede grootste in die wêreld. Op 10 Februarie 2016 is bekend gemaak dat die diamant bekend sal staan as Lesedi la Rona - Ons lig. Daar is ook bekend gemaak dat 'n stukkie van die diamant afgebreek het en dit nou 1109 karaat weeg.Reuse-diamant se naam beteken Ons lig. Beeld, 10 Februarie 2016.
afr_Latn_45
Gereformeerde kerk Pietermaritzburg Die Gereformeerde kerk Pietermaritzburg is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die KwaZulu-Natalse hoofstad, Pietermaritzburg. Hoewel Vryheid (1897) en Paulpietersburg (1899–1951) baie ouer as Durban (1922) is, was eersgenoemde twee gemeentes lank kerklik (ook wat die NG Kerk betref) deel van Transvaal omdat dit geleë is in wat destyds die Nieuwe Republiek was. So was Durban met sy stigting in Julie 1922 die eerste gemeente wat in die ou Natal tot stand gekom het. Van dié gemeente was Pietermaritzburg 'n wyk. In Augustus 1925 het die Gereformeerde kerk Pietermaritzburg afgestig en 'n selfstandige gemeente geword, die tweede in Natal. Op 19 Maart 1951 het die kerkraad die tender van Dirker Broers vir die bou van 'n kerk teen R27 058 aanvaar. Op 15 September 1951 is die kerk se hoeksteen gelê. Prof. J.P. Jooste het die feesrede by dié geleentheid gelewer. Die orrel het in Maart 1953 aangekom en is waarskynlik tydens die eerste uitsaaidiens uit die nuwe kerk op 24 Mei 1953 feestelik in gebruik geneem. Die eerste orreliste was mev. ds. Venter, war R12 per maand verdien het. Die gemeente het 'n goed geleë en gerieflike pastorie gehad en ook sy eie, sierlike kerkgebou.
afr_Latn_46
Gereformeerde kerk Durban Die Gereformeerde kerk Durban was 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die gelyknamige stad in KwaZulu-Natal wie se laaste erediens en daarmee saam die laaste Nagmaal op 3 November 2019 gehou is. Dié diens is gelei deur ds. Herman Coetzee van die Gereformeerde kerk Amanzimtoti. Hoewel die gemeentes Vryheid (1897) en Paulpietersburg (1899–1951) etlike jare voor Durban (1922) en Pietermaritzburg (1925) gestig is, was Durban die eerste Gereformeerde kerk wat in Natal gestig is omdat Vryheid en Paulpietersburg in die sogenaamde Nieuwe Republiek geval het en daarom kerklik nog dekades lank onder Transvaal geressorteer het.
afr_Latn_47
Arthur Griffith Arthur Griffith (Iers: Art Ó Gríobhtha; 31 Maart 1872 – 12 Augustus 1922) was 'n Ierse politikus en skrywer. Hy was die stigter van die politieke party Sinn Féin, wat die politieke vleuel van die Ierse Republikeinse Leër geword het. Griffith het gesê dat die Uniewette van Groot-Brittanje en Ierland (1800) onwettig was en dat daar dus 'n regering vir Groot-Brittanje en 'n ander vir Ierland moes wees. Die koning van Groot-Brittanje sou ook die koning van Ierland wees. Hy is in 1918 tot die parlement verkies en was die hoof van die Ierse afvaardiging by die onderhandelinge in Londen wat die Anglo-Ierse Verdrag van 1921 opgelewer het. Die verdrag het tot die stigting van die Ierse Vrystaat gelei.
afr_Latn_48
Gereformeerde kerk Durban-Wes Die Gereformeerde kerk Durban-Wes was die derde gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in Durban, KwaZulu-Natal, maar ook die eerste wat ontbind het. In die dekade ná 1960 het die Gereformeerde kerk Durban so gegroei dat dit wenslik was om nog 'n deel daarvan af te stig nadat Noord-Durban reeds in 1952 tot stand gekom en dele soos Durban-Noord self, Stanger, Umhlanga en Berea ingesluit het. Op 4 Februarie 1968 het 12 wyke wes van die ou Suidkuspad tot by Pinetown, waar die Gereformeerde kerk Pinetown eers in 1986 van Durban-Wes sou afstig. In die stigtingsjaar het die plek van eredienste na die Boy Scouts-saal in Bellair verskuif. Dit was nie 'n oplossing op lang termyn nie, want Sondae voor die diens moes die saal eers netjies gemaak word ná die danspartytjies van ander huurders die aand vantevore. Later in die stigtingsjaar is toe besluit om 'n erf koop by Dickensweg 19, Bellair, en 'n kerkgebou op te rig. Twee lidmate was ten nouste by die kerkbou betrokke: P.F. Pretorius as argitek en Jaap van den Berg as bouaannemer. Die bouwerk het in Julie 1971 begin en op 19 Augustus 1972 is die gebou in gebruik geneem. Die gebou is so ontwerp dat die ingang na die kerk en saal 'n voorhof vorm wat deels onder dak is. Die kerkruimte is in 'n driehoek ontwerp met die hoogste deel by die preekstoel. Die sitplekke is sirkelvormig aangebring. Dié gebouekompleks het ook 'n moederskamer, kombuis en woonstel ingesluit. Durban-Wes het in 1990 ontbind, waarna die leraar en lidmate oorgegaan het na die moedergemeente. Die kerkkompleks is blykbaar oorgeneem deur 'n Christelike skool.
afr_Latn_49
Gereformeerde kerk Durban-Noord Die Gereformeerde kerk Durban-Noord is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) in die grootste stad in KwaZulu-Natal, Durban, maar die gemeentegrense sluit ook die gebied van Umhlanga af noordwaarts tot by Stanger in. Ds. J. Venter het op 23 November 1952 'n erediens in 'n kerkgebou by Montpellierweg (nou Sandile Thusiweg) 112, Berea, gehou. By hierdie geleentheid is die nuwe Gereformeerde kerk Noord-Durban afgestig van die Gereformeerde kerk Durban, die tweede en voorlaaste afstigting in dié oorwegende Engelse hawestad. Later (omstreeks 1983) het die naam Durban-Noord geword. In 1968 het ook nog Durban-Wes aan die beurt gekom, maar nadat Pinetown se afstigting in 1986 dié gemeente blykbaar sodanig verswak het dat dit nie selfstandig kon voortbestaan nie, het dit in 1990 ontbind en met leraar en al oorgegaan na Durban. 'n Tweede kerk in Durban het nodig geword omdat die enkele leraar van Durban, ds. P.J. de Klerk, die hele Natalse kusgebied met amper 600 belydende lidmate moes bedien. Onder ds. E.J.G. Norval se leiding is besluit om 'n kerkgebou op te rig. Geld was skaars; daarom het die GKSA se Administratiewe Buro 'n lening van £9 000 toegestaan. Selfs in dié kerkverband se eeufeesjaar (1959) het Noord-Durban nog net 202 belydende lidmate gehad, vergeleke met die moederkerk se 472, oftewel meer as 'n derde van al die Doppers in Natal. Ds. Norval het die hoeksteen van die Totiussaal in Floridaweg, dieselfde straat waarin die NG gemeente Berea se kerkgebou geleë was, gelê. Intussen het die gemeente sendingwerk in KwaMashu gedoen en twee erwe bekom. Op 29 Augustus 1959 is twee kerkgeboue toe in gebruik geneem. Die Gereformeerde kerk KwaMashu, in 2015 die grootste Gereformeerde gemeente in KwaZulu-Natal, het dié twee kerke minstens nog in 2010 gebruik. Teen 1984 het dit soveel beter gegaan met Durban-Noord, wat dikwels net danksy sustentasie kon oorleef, dat die kerkraad dit oorweeg het om 'n nuwe kerkgebou op te rig. In daardie jaar is die Totiussaal teen vervangingswaarde verkoop en 'n erf by Waterkantweg 121, Durban-Noord, aangekoop. Op 1 Oktober 1985 het die bouwerk begin met 'n lidmaat, Julian Thom, as bouheer wat toesig gehou het en die gemeente as eienaarbouer. Die boukoste en die koste van die grond het sowat R330 000 beloop. Die inkomste deur die verkoop van die saal en ook ná talle bydraes, was R290 000. Dora van der Walt het die kerkdeur plegtig oopgesluit op 2 November 1986. Durban-Noord het einde 1998 185 belydende lidmate gehad en die moedergemeente 240. Einde 2014 het Durban-Noord 138 belydende lidmate gehad en die moedergemeente 74. In min of meer dieselfde tyd het die 14 NG gemeentes in Durban en omstreke se belydende lidmate van sowat 10 000 tot sowat 6 600 afgeneem. Met die samesmelting van die Klassisse KwaZulu-Natal-Suid en -Noord het die gemeente op 12 Maart 2024 deel geword van die nuwe klassis.
afr_Latn_50
Gereformeerde kerk Pinetown Die Gereformeerde kerk Pinetown is, soos die naam aandui, 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) op Pinetown in KwaZulu-Natal Die Gereformeerde kerk Durban het op 17 Desember 1954 'n perseel op Pinetown gekoop en op 8 Junie 1957 is 'n kerksaal, bekend as die Amajuba-saal, op dié grond in gebruik geneem. Ds. P. de Klerk het die hoeksteen gelê. In 1970 is dié saal teen ds. De Klerk se sin verkoop. In die loop van die dekade ná 1960 het die moedergemeente Durban so gegroei dat die 12 wyke wes van die ou Suidkuspad in 1968 as die Gereformeerde kerk Durban-Wes kon afstig. Mettertyd het die toename in Gereformeerdes in die Pinetown-deel van dié gemeente die afstigting van die Gereformeerde kerk Pinetown moontlik gemaak, en wel op 5 Oktober 1986. Aanvanklik is eredienste in 'n plaaslike skoolsaal gehou, maar die gemeente het van die begin af die behoefte aan 'n eie kerkgebou gevoel. Die plaaslike munisipaliteit het pogings om 'n kerkperseel te bekom teengestaan. Die kerksaal van die NG gemeente Pinetown in Voortrekkerstraat, wat destyds as 'n preprimêre skool gebruik is, was in die mark. 'n Gemeentevergadering het op 25 Oktober 1992 besluit om dié saal te koop. Dit het kort voor lank bekendgestaan as Ons Klein Jerusalem. Francois Smith is as argitek aangestel en Bert Bouwers as bouaannemer om die restourasie van die saal te behartig. Op 26 November 1994 kon Pinetown sy sobere kerkgebou in gebruik neem. Die preekstoel is gemaak van hout uit die kroeg van 'n skeepswrak. NG lidmate van Pretoria het R5 000 vir die matte geskenk. Lidmate het banke gemaak. Die Nagmaaltafels is gemaak van skooltafels uit die Westridge-skool. Dié tafels is in die lengte deurgesaag en van ekstra pote voorsien. Die afstigting van Pinetown het die moedergemeente Durban-Wes blykbaar so verswak dat dié gemeente in 1990 ontbind en die oorblywende lidmate ds. H.B. Coetzee by die moedergemeente Durban ingeskakel het. Pinetown het einde 2001 155 belydende lidmate gehad, maar einde 2014 net 81, vergeleke met die NG gemeente Pinetown se 748 einde 2001 en 327 einde 2014.
afr_Latn_51
Gereformeerde kerk Empangeni Die Gereformeerde kerk Empangeni is, soos die naam aandui, 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika op die KwaZulu-Natalse dorp Empangeni, maar dit sluit ook omliggende dorpe soos Mtubatuba, Eshowe, Melmoth, Richardsbaai en St. Lucia in. 'n Klein groepie lidmate in Zoeloeland het met visie en die ywer om dit 'n werklikheid te maak reeds in 1950 'n erf op Empangeni gekoop met die oog daarop om later 'n kerkgebou op te rig. Met die afstigting van die Gereformeerde kerk Empangeni van Noord-Durban in 1958, het die lidmate dadelik 'n boukommissie in die lewe geroep. Nadat verskeie planne oorweeg is, het die kommissie besef hulle sou vir eers met net 'n saal tevrede moes wees. In 1968 is die argitek Carl Mouton, van die firma Boogertman, Brink & Mouton, se dienste bekom. Hy het 'n ontwerp voorgelê wat dit moontlik sou maak om die saal, konsistorie en toilette te bekostig en boonop 'n deel van die kerk (met net vyf banke) te bou, wat later maklik vergroot sou kon word. Die bouaannemer was Tienie van Staden. Empangeni het einde 1997 276 belydende lidmate gehad, maar teen einde 2014 het dit afgeneem tot 122. Die NG Kerk het min of meer agt gemeentes, saamgetrek in die Ring van Melmoth, in die gebied wat ooreenstem met dié van die Gereformeerde kerk Empangeni. Dié ring het einde 2014 3 838 belydende lidmate gehad, vergeleke met 5 264 einde 2001. Die Hervormde kerk het op 21 Junie 1968 'n gemeente Empangeni gestig, wat einde 2014 127 belydende lede gehad het. Die Hervormde gemeente Richardsbaai is op 15 Januarie 1978 gestig. Dié gemeente het einde 2014 381 belydende lede gehad. Tydens die samesmelting van die Klassisse KwaZulu-Natal-Suid en -Noord het die gemeente op 12 Maart 2024 deel geword van die nuwe klassis.
afr_Latn_52
Gereformeerde kerk Amanzimtoti Die Gereformeerde kerk Amanzimtoti is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika met sy middelpunt in Winklespruit by Kingsburgh, suid van Durban, aan die KwaZulu-Natalse suidkus. Dié gemeente se geskiedenis is nou verbonde met dié van Mooi Hawens, die Residentia-stigting se oord vir bejaardes op Winklespruit. In die laat vyftigerjare het afgevaardigdes na 'n diakonale konferensie op Ladysmith besluit om hulle vir die oprigting van 'n ouetehuis aan die Natalse Suidkus te beywer. In 1965 het die Gereformeerde kerk Durban se kerkraad die Gereformeerde Stigting vir die Versorging van Oues van Dae en die Jeug (die latere Residentia-stigting) genader om hulp met die bou en bestuur van 'n ouetehuis. 'n Voorvereiste was dat daar 'n saal moes wees waarin die Gereformeerde Kerk eredienste kon hou. Durban se kerkraad het 'n meewerkende liggaam van die Stigting geword en onder leiding van ds. P.J. de Klerk het hulle persele op Winklespruit gekoop en begin met die oprigting van Mooi Hawens. Die idee was van die begin af om 'n kerkgebou op die perseel op te rig, maar die tehuis se bouplan het die hele perseel beslaan sodat daar geen plek vir die kerk was nie. Omdat die kerkraad met 'n tehuis sonder 'n kerk niks uit te waai wou hê nie, is besluit om voorsiening te maak vir 'n gemeenskapsaal onder die tehuis. Mooi Hawens se eerste inwoners is op Maandag 1 Maart 1971 ontvang en op Sondag 7 Maart het ds. P.J. de Klerk, wat sy emeritaat in 1968 aanvaar het en hom jare lank vir die oprigting van die tehuis beywer het, die eerste erediens gelei. Die plan was om eers net vakansietye eredienste 'n Mooi Hawens te hou, maar binne ses maande het die lidmaattal so toegeneem dat, in samewerking met die drie Durbanse gemeentes (Durban, Durban-Noord en Durban-Wes), van September 1971 af elke Sondagmiddag 'n erediens in Mooi Hawens se saal gehou is. Die eerste Nagmaal is op 21 Mei 1972 hier bedien. Eindelik stig die gemeente Amanzimtoti op 23 Junie 1985 af van die Gereformeerde kerk Durban. Intussen het die kerkraad van die moedergemeente drie erwe langs Mooi Hawens bekom en kon hulle Huis Lena de Klerk vir verswakte bejaardes en die Tabor-woonstelle vir afgetredenes laat bou. Tydens die beplanning van die Tabor-woonstelblok is weer voorsiening gemaak vir 'n dienssentrum, bekend as die Tabor-saal, en kon die eredienste einde 1988 na die nuwe saal verskuif. Amanzimtoti het einde 1997 203 belydende en 54 dooplidmate gehad en einde 2014 onderskeidelik 162 en 19. Die plaaslike gemeente van die Hervormde Kerk, bekend as Saffierkus, is op 7 Februarie 2010 gestig en het einde 2014 100 belydende en 25 dooplede gehad. Die NG gemeente Suidkus is in 1958 op Amanzimtoti gestig. Dié gemeente was einde 2014 die NG gemeente in KwaZulu-Natal met die meeste belydende lidmate (1 400), maar die NG gemeente Richardsbaai het meer dooplidmate gehad. Met die samesmelting van die Klassisse KwaZulu-Natal-Suid en -Noord het die gemeente op 12 Maart 2024 deel geword van die nuwe klassis.
afr_Latn_53
Gereformeerde kerk Suidkus Die Gereformeerde kerk Suidkus is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika op Port Shepstone aan die suidkus van KwaZulu-Natal. Dit sluit ook onder meer Margate, Port Edward, Hibberdene, Ramsgate en Uvongo in, met ander woorde die hele suidkus suid van Scottburgh tot aan die Oos-Kaapse grens.
afr_Latn_54
Boesmansrivier (dubbelsinnig) Boesmansrivier (spruit in Oos-Kaap, lat -33,20, long 23,52), Boesmansrivier (spruit in Oos-Kaap, lat -33,10, long 25,25), Boesmansrivier (spruit in Oos-Kaap, lat -32,89, long 23,22), Boesmansrivier (spruit in Wes-Kaap, lat -32,68, long 21,87), Boesmanspruit (Watervalrivier, Mpumalanga), Boesmansrivier (spruit in Oos-Kaap, lat -32,08, long 25,04), Boesmansrivier (spruit in Noord-Kaap, lat -29,86, long 20,51), Boesmansrivier (Wes-Kaap, lat -33,96, long 20,04), Boesmansrivier (Oos-Kaap, lat -33,70, long 26,66), Boesmansrivier (Oos-Kaap, lat -33,70, long 23,97), Boesmansrivier (Wes-Kaap, lat -33,42, long 22,25), Boesmansrivier (KwaZulu-Natal, lat -29,87, long 29,27), Boesmansrivier (KwaZulu-Natal, lat -29,08, long 29,81), Boesmansrivier (Noord-Kaap, lat -28,90, long 20,66), Boesmansrivier (KwaZulu-Natal, lat -28,76, long 30,19), Boesmansrivier (spruit in Noord-Kaap, lat -31,24, long 19,85), Boesmansrivier (Wes-Kaap, lat -34,61, long 19,46), Boesmansrivier (Wes-Kaap, lat -32,84, long 18,57),
afr_Latn_55
Gereformeerde kerk Newcastle Die Gereformeerde kerk Newcastle is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika op die dorp Newcastle in KwaZulu-Natal wat ook omliggende gebiede en onder meer die dorp Utrecht insluit. Die Gereformeerde kerk Newcastle is in 1960 gestig. Ds. F.J. du Toit Lessing het sy intreepreek op 5 Februarie 1962 gelewer en die gemeente amper vyf jaar bedien. Sy diensperiode is einde 1966 beëindig toe Newcastle in kombinasie met Glencoe (gestig in 1950) tree. Aanvanklik het die huisgemeente van Newcastle Nagmaal in die Rooikruissaal gevier. Ds. Lessing het per geleentheid vertel die oorblyfsels van die Saterdagaand se partytjies moes eers weggevee word voor Nagmaal bedien kon word. Later het die lidmate in die sysaal van die stadsaal byeengekom. Tydens die erediens moes die prediker dan met die geklap van tennisballe meeding, aangesien die tennisbane reg langsaan die stadsaal was. Ná onderhandelinge kon die kerkraad 'n kerkerf teen 'n billike prys in die nuwe woonbuurt Arborpark bekom met die ooreenkoms dat die kerkgebou binne 12 maande opgerig sou word. In 1964 het die 35ste Sinodale vergadering danksy die bemiddeling van die Partikuliere Sinode OVS en Natal toestemming verleen dat Newcastle in die kerkverband kon kollekteer vir die aankoop van 'n kerkerf en die oprigting van 'n kerkgebou. Hoewel die bron dit nie so stel nie, kon die gemeente waarskynlik nie voldoen aan die voorwaarde verbonde aan die eerste erf nie. In die naweek van 23 en 24 November 1968 kon die gemeente toe 'n kerk met 120 sitplekke en 'n orrel in gebruik neem. In die vroeë sewentigerjare het Newcastle se bevolking skep toegeneem vanweë die bou van 'n Iscor-aanleg. Nuwe woonbuurte het vinnig ontstaan en die kerkie het uit sy nate gebars. (Intussen is twee NG gemeentes in 1973 afgestig en nog twee in 1981.) Die Gereformeerde kerkgebou moes vergroot word deur die bestaande gebou as die liturgiese ruimte in te rig en die skip aan te bou. Tydens die samesmelting van die Klassisse KwaZulu-Natal-Suid en -Noord het die gemeente op 12 Maart 2024 deel geword van die nuwe klassis.
afr_Latn_56
Boesmanspruit (Watervalrivier, Mpumalanga) Vir ander spruite met dieselfde naam, sien die dubbelsinnigheidsbladsy by Boesmanspruit. Boesmanspruit is 'n spruit wat suid van Secunda in Mpumalanga, Suid-Afrika ontspring. Dit vloei in 'n suidwestelike rigting tot dit by die Watervalrivier aansluit. Die Watervalrivier sluit by die Vaalrivier en daarna by die Oranjerivier aan, waarna dit in die Atlantiese Oseaan uitmond.
afr_Latn_57
Boesmansrivier (KwaZulu-Natal, lat -28,76, long 30,19) Die Boesmansrivier is 'n rivier in KwaZulu-Natal, Suid-Afrika en 'n sytak van die Tugelarivier. Die rivier ontspring in die Drakensberge en vloei van daar in 'n oos na noordoostelike rigting. Die boonste opvanggebied is in die Giant's Castle-wildreservaat, noord van die Giant's Castle-bergpiek. Dit voed die Wagendriftdam, waarna dit verby die dorp Estcourt vloei, om naby die dorp Weenen by die Tugelarivier aan te sluit. Die sytakke van die rivier is die Klein-Boesmansrivier (wat by Estcourt in die Boesmansrivier invloei), Rensburgspruit en die Mngwenya-rivier. Die Wagendriftdam naby Estcourt is die rivier se grootste reservoir. Talle digbevolkte landelike dorpe, verskeie wat deur die Hlubi-stam bewoon word, word in die boonste opvanggebied van die rivier aangetref. Die rivier word deur die Bloukransrivier in die noorde en die Mooirivier in die suide begrens.
afr_Latn_58
Inselberg 'n Inselberg of eilandberg is 'n geïsoleerde rotsheuwel of klein berg wat skielik uit 'n effens skuins of nagenoeg gelyk vlakte oprys. In Suider- en Suidsentraal-Afrika staan inselberge van graniet as koppies bekend. Die woord is aan die ooreenstemmende Nederlandse woord, kopje, ontleen en word ook in Engelse tekste aangetref. Die term inselberg is uit Duits afkomstig en beteken "eilandberg". Die woord is oorspronklik deur die geoloog Wilhelm Bornhardt (1864–1946) in 1900 bedink om die talle kenmerkende koppies in Suider-Afrika te beskryf.
afr_Latn_59
Baardskeerder-spinnekop Die baardskeerder-spinnekoppe (Solifugae) is 'n orde van geleedpotige, spinnekopagtige (Arachnida) diere, wat ook onder andere haarskeerders, jagspinnekoppe en rooiromanne genoem word. Hulle is egter nie regte spinnekoppe nie. Die orde omvat meer as 1 000 spesies in ongeveer 153 genera. Die diertjies kom in warm, droë en by voorkeur woestynagtige gebiede voor, op alle kontinente behalwe Australië en Antarktika. Hulle word veral in Noord-Afrika en die Midde-Ooste aangetref. Hulle vreet termiete, sprinkane, allerlei insekte, maar ook klein knaagdiere, akkedisse, slange en voëltjies. Die grootste spesies word (met pote ingesluit) 12-15 cm groot. Hulle het 'n geniepsige byt, maar is normaalweg nie gevaarlik vir mense nie. Hulle hardloop soms agter mens se skaduwee aan, wat die indruk skep dat hulle jou jaag. Baardskeerdersbos in die Rooi-Strandveld van die Overberg in die Wes-Kaap is waarskynlik na hierdie diere genoem. Die kaaktasters lyk soos die ledemate, maar daar is 'n klewerige gedeelte aan die voorpunt, wat gebruik word om die prooi mee te vang. Hulle is aktiewe roofdiere en hul dieet kan selfs klein gewerweldes insluit. Die prooi word met behulp van die kaaktasters gevang en dan met die kloukake doodgedruk en stukkend geskeur. Hulle oë is goed ontwikkel en daar is slegs twee aanwesig, terwyl die hele liggaam met tashare bedek is. Gaswisseling geskied deur 'n goed ontwikkelde stel tragea. Paring geskied wanneer die mannetjie die wyfie bespring en dan in 'n passiewe toestand teen die grond vasdruk. Die kloukake word gebruik om die sperma na die wyfie se geslagsopening te bring.
afr_Latn_60
Gereformeerde kerk Aranos Die Gereformeerde kerk Aranos is 'n Gereformeerde gemeente in Namibië. Dit was die derde oudste gemeente van die Gereformeerde Kerke in Namibië, maar het in 2016 sy verbintenis met die Gereformeerde kerkverband (GKSA) beëindig. Met 16 belydende en vyf dooplidmate einde 2014 was dit die tweede kleinste Gereformeerde kerk in dié land, naas Karasburg, met 12 belydende en twee dooplidmate. In die loop van 2015 het die belydende lidmate toegeneem tot 19 en die dooplidmate tot ses.
afr_Latn_61
Gereformeerde kerk Outjo Die Gereformeerde kerk Outjo was die tweede oudste Gereformeerde gemeente in Namibië, maar het die kerkverband in 2016 verlaat saam met die gemeentes Aranos, Biermanskool, Khomas-Hoogland en Namib-Kus. Van laat in die 19de eeu met die stigting van die NG gemeente Mariental (as Gibeon) tot in 1930, toe dié kerkverband reeds vyf gemeentes in Suidwes-Afrika gehad het, was dit die enigste van die drie Afrikaanse Kerke wat in die mandaatgebied bedrywig was. In 1930 het drie Gereformeerde kerke kort ná mekaar tot stand gekom, en wel Gobabis, Outjo en Aranos, nadat 1 922 Afrikaners, oorlewendes en nasate van die Dorslandtrek, tot in 1929 uit Angola gerepatrieer is. Hulle was hoofsaaklik lidmate van die Gereformeerde Kerk, maar daar was ook lidmate van die Hervormde Kerk onder hulle, wat verklaar waarom die eerste drie Hervormde gemeente, ook so te sê meteens tot stand gekom het, hoewel eers in 1937: Gobabis (31 Julie), Otjiwarongo (21 Augustus) en Grootfontein (4 September). Die koms van die Angola-Boere na Suidwes-Afrika verklaar waarom die Gereformeerde sowel as Hervormde gemeentes van Gobabis ouer as die plaaslike NG gemeente is. Die Gereformeerde kerk Aranos is op sy beurt ruim 22 jaar ouer as die plaaslike NG gemeente en die Gereformeerde kerk Outjo 13 jaar ouer as die NG gemeente Outjo. Die Gereformeerde kerk Outjo is in 1930 gestig as die eerste Afrikaanse gemeente op die dorpie Outjo. Die kerkgebou is, volgens die bewoording van 'n bronsplaat onder die hoeksteen, "ontwerp en steen vir steen opgerig en afgerond deur ouderling Jan Johannes van der Smit". Van der Smit (mense het hom agteraf Napoleon genoem) was 'n nasaat van die Angola-trekkers, soos trouens die meeste mense destyds en selfs vandag nog is. Hy was 'n bekende boukontrakteur en al is dié woorde op die plaat ingegraveer, is dit hoogstens figuurlik waar, want 'n hele paar manne het saam gewerk om die gebou op te rig wat eindelik in 1950 voltooi is. Nadat die Sinode Middellande (hoofsaaklik swart kerke) se gemeentes saam met die voormalige wit en bruin gemeentes in klassisse heringedeel is, het Outjo oorgegaan na die Klassis Waterberg, saam met nog ses Namibiese gemeentes, naamlik Aranos, Otjiwarongo, Biermanskool, Namib-Kus en Khomas-Hoogland, terwyl die 12 ander Namibiese kerke die Klassis Etosha vorm. In 2016 het die gemeente met hul predikant, ds. M.J.J. Erasmus, hulle losgemaak van die GKSA. Hy bedien die gemeente in kombinasie met Biermanskool. Terselfdertyd het van die ander sewe gemeentes wat vroeër tot Klassis Waterberg behoort het, net Otjiwarongo in die GKSA gebly.
afr_Latn_62
Gereformeerde kerk Gobabis Die Gereformeerde kerk Gobabis is die oudste Gereformeerde gemeente in Namibië. Einde 2015 was dit, wat sieletal betref (300), die naasgrootste van die tradisionele Gereformeerde kerke in dié land.
afr_Latn_63
Mark Behr Mark Behr (19 Oktober 1963 – 27 November 2015) was 'n bekroonde Suid-Afrikaanse skrywer wat in Tanzanië gebore is. Hy het in Afrikaans sowel as Engels geskryf. Sy debuutroman, Die reuk van appels (1993), later vertaal as The Smell of Apples (1995), is in Suid-Afrika met die M-Net-, Eugene Marais- en CNA-literêre prys bekroon, en in die Verenigde Koninkryk met die Betty Trask-toekenning vir die beste debuutroman van die jaar. In 1996 bieg hy oor sy rol as 'n spioen vir die apartheidsregering in die 1980's. Sy latere romans is Embrace (2000) en Kings of the Water (2009).
afr_Latn_64
Blougrys Blougrys is 'n medium blouerige grys kleur. 'n Ander naam vir die kleur in Engels is livid; afgelei van die Latynse kleurterm lividus, wat verwys na 'n "dowwe loodblou" kleur.
afr_Latn_65
Gereformeerde kerk Biermanskool Die Gereformeerde kerk Biermanskool was 'n Gereformeerde gemeente in Namibië, maar het die GKSA in 2016 verlaat. Die gemeente het die onderskeiding gehad dat sy kerkgebou die oudste Gereformeerde kerk was wat steeds in Namibië in gebruik was.
afr_Latn_66
Boom van Samespreking Die Boom van Samespreking (ook bekend as die "Boom van Sameswering") is 'n olienhoutboom op die plaas Onze Rust in die omgewing van Bloemfontein. Hierdie plaas was voorheen die eiendom van pres. M.T. Steyn, die laaste Staatspresident van die Oranje-Vrystaat. Gesprekke met vriende en besoekers en beraadslagings met lede van die regering van die Republiek van die Oranje-Vrystaat het dikwels in die opelug in die skadu van hierdie boom plaasgevind. Ook nog na die Tweede Vryheidsoorlog, nadat Steyn uit Europa teruggekeer het, het hy vanuit Onze Rust as leier en raadgewer vir die Afrikanervolk opgetree het. Die groot simmetriese boom, is ongeveer 400 m reg wes van die woning geleë. Hier het die President ook dikwels persoonlike rus en vrede gaan soek. Die boom is in 1950 tot gedenkwaardigheid verklaar.
afr_Latn_67
M.T. Steyn-gedenktekens Daar is verskeie monumente en ander gedenktekens vir pres. M.T. Steyn in Suid-Afrika en Nederland.
afr_Latn_68
Onze Rust Onze Rust was die plaas van president MT Steyn, die laaste Staatspresident van die Oranje-Vrystaat. Dit is ongeveer 22 km ten suide van Bloemfontein geleë. Na die Tweede Vryheidsoorlog was dit veral van hier dat hy as leier en raadgewer vir die Afrikanervolk opgetree het. Die "Boom van Samespreking", 'n groot simmetriese olienhoutboom, is ongeveer 400 m reg wes van die woning geleë en baie van die belangrike en deurslaggewende samesprekings het in die skaduwee van hierdie boom plaasgevind. Hier het die President ook dikwels persoonlike rus en vrede gaan soek.
afr_Latn_69
Gereformeerde kerk Keetmanshoop Die Gereformeerde kerk Keetmanshoop is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerk in die suide van Namibië met sy middelpunt op die dorp Keetmanshoop, maar die gemeentegrense sluit ook die dorpies Aroab, Aus, Bethanie, Koës, Lüderitz en Rosh Pinah in. Omdat die gemeente in kombinasie met Mariental is, is ds. Johan Dunn, Keetmanshoop se huidige (2017) leraar, ook verantwoordelik vir die bediening van lidmate op Mariental, Kalkrand, Maltahöhe, Stampriet en Gochas. Saam met Keetmanshoop vorm dit 'n reusegebied, nagenoeg so groot soos die Verenigde Koninkryk. Die afstand van Lüderitz na Stampriet is byvoorbeeld meer as 500 km en selfs net tussen die twee hoofdorpe, Keetmanshoop en Mariental, is dit 230 km.
afr_Latn_70
Gereformeerde kerk Mariental Die Gereformeerde kerk Mariental is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Namibië met sy setel op die dorp Mariental, maar die gemeentegrense sluit ook die dorpe Kalkrand, Maltahöhe, Stampriet en Gochas in. Die gemeente is in 1966 gestig, in dieselfde jaar as Karasburg, en dit is tans (2015) die elfde oudste Gereformeerde gemeente in die land. Aanvanklik was die suide van die destydse Suidwes-Afrika yl bevolk en het die distrikte Mariental en Karasburg onder Keetmanshoop, die hoofdorp van die suide, geval. Op 27 Februarie 1932 is die wyk Keetmanshoop gestig onder leiding van ds. H.F.V. Kruger, en op 28 Junie 1936 het Keetmanshoop 'n volwaardige gemeente geword, die Gereformeerde kerk Keetmanshoop. Op 25 Maart 1950 is ds. D.C.S. van der Merwe, wat op Windhoek gewoon het, as predikant ook vir die suide van die land ontvang. So het hy dan in 'n klaskamer van die laerskool op Mariental kom dienste hou vir die lidmate van die omgewing. Op 'n gemeentevergadering op Mariental op 25 Mei 1963 is besluit om geld in te samel om 'n eie kerkgebou te laat bou. Die munisipaliteit is genader en hulle het twee groot erwe aan die Gereformeerde kerk geskenk. 'n Boukommissie is gekies, by name broers Pieter van Vuuren (voorsitter), Boy de Waal, Z.P. Venter en P.J. Nel en susters H.C. Venter, C. Viljoen, C. Visser en J. Horn, asook ds. Benoni van der Walt, Keetmanshoop se predikant van 1963 tot 1969. Met talle verkopings, kollektelyste en die opbrengs van 'n eie skaapboerdery kon die droom verwesenlik word. Die boukommissie het besluit om die oorspronklike grondplan van die kerkgebou van Karasburg met enkele wysigings oor te neem. J. Notzen is as bouaannemer aangestel en sou die gebou oprig teen 'n koste van R8 500. Die kerk het eindelik R13 000 gekos, wat kerkbanke met 120 sitplekke, twee Nagmaaltafels en 20 stoele ingesluit het. By voltooiing was alles reeds afbetaal. Jasper Visser het die preekstoel gemaak asook die houtdeure wat inbrekers later lelik beskadig het. 'n Lidmaat het die oorspronklike kandelaar bokant die preekstoel gemaak van 'n Cobra-politoerblik wat met 'n hondeketting uit die dak vasgemaak is. Dis later vervang nadat dit 'n nuwe lidmaat gehinder het. Op die hoeksteen is die wapen van die Gereformeerde Kerk gegraveer asook die woorde van Psalm 24:10: "Wie is dan tog die Erekoning? Die Here van die leërskare — Hy is die Erekoning!" Agter die hoeksteen is in 'n houer dokumente vasgemessel met die name van die boukommissielede, die kontrakteur en gegewens van die geldinsamelinggeldsinsameling, asook die name van die kerkraadslede. Eindelik het die groot dag aangebreek met die ingebruikneming op Saterdag 28 November 1964. Vroeg in die 21ste eeu is die kerkgebou aan die westekant ietwat verander. Die moederskamer is in 'n kantoor omskep toe 'n saal asook 'n woonstel vir die predikant later langs die kerk gebou is.
afr_Latn_71
Gereformeerde kerk Karasburg Die Gereformeerde kerk Karasburg is die mees suidelike gemeente van die Gereformeerde Kerke in Namibië en ook die kleinste met einde 2014 net 12 belydende en twee dooplidmate. Buiten die hoofdorp, Karasburg, sluit die gemeente ook plekke soos Ariamsvlei, Grünau, Noordoewer, Oranjemund en Warmbad in Namibië, en Alexanderbaai, Port Nolloth en Springbok in Suid-Afrika in. Gereformeerde lidmate in die suide van Suidwes-Afrika het van 1936 af op Keetmanshoop vergader waar die Gereformeerde kerk Keetmanshoop op 28 Junie 1936 gestig is. Karasburg het in 1955 'n wyk van die Gereformeerde kerk Keetmanshoop geword, dieselfde jaar waarin drie nuwe gemeentes in Suidwes gestig is, naamlik Tsumeb, Otjiwarongo en Vanjaarsveld. In 1966 het Karasburg 'n selfstandige gemeente geword, dieselfde jaar as Mariental, ook 'n dogtergemeente van Keetmanshoop. In die laat vyftigerjare het die gemeente aan huis van Baartjie Viviers, 'n lidmaat van die NG gemeente Karasburg vergader. Dié huis was van 1943 tot 1952 'n skoollosieshuis vir plaaskinders. Daar was 'n groot vertrek wat as slaapkamer vir seuns gedien het en wat van 1955 af ingerig is vir kerkdienste. Stoele moes voor en ná elke diens aangery word, wat nie bevorderlik vir gemeentegroei was nie. Gevolglik is 'n gemeentevergadering in 1959 onder voorsitterskap van ds. H.A. Louw van Keetmanshoop gehou waarop besluit is om 'n eie kerkgebou te bekom. Oudl. J. Landsberg het op dié vergadering £500 aangebied en belowe die res kom later. Met hierdie bydrae is die boufonds geopen, en in 1961 is die kerkgebou (met eie kerkbanke) in gebruik geneem. Gegewe die geskiedenis van stoele aanry, was die bate van eie kerkbanke 'n groot gebeurtenis vir die lidmate. Die kerkklok was 'n geskenk van Johannes von Moltke, LV vir die kiesafdeling Karas. Omdat die kerkgebou langs die seunskoshuis geleë was, was dit vir skoolseuns 'n versoeking om die klok om middernag te lui. Weens dié kattekwaad het die kerkraad weldra besluit om die klok stil te maak. Karasburg is vroeg in die 21ste eeu erg geraak deur die wegtrek van lidmate. Van sowat 50 belydende lede omstreeks 1997 het hulle afgeneem tot 15 in 2008 en 12 einde 2014. Nadat die gemeente dekades lank in kombinasie met Keetmanshoop was, het die gemeente oorgegaan tot 'n bedieningsooreenkoms met Upington.
afr_Latn_72
Asiatiese Suid-Afrikaners Asiatiese Suid-Afrikaners bevat die mense en volke van Asiatiese afkoms wat tans in Suid-Afrika woon. Dit verwys hoofsaaklik na Asiatiese Indiërs maar dit is moontlik dat die term ook na die groeiende Chinese bevolking of die klein Iranse-gemeenskap van Suid-Afrika verwys.
afr_Latn_73
Microsoft PowerPoint Microsoft PowerPoint is 'n rekenaarpakket wat ontwikkel is om grafiese aanbiedings te maak. Dit voorsien gereedskap aan die gebruiker om professionele aanbiedings te doen. Dit verskaf onder andere woordverwerking, beklemtoning, teken en grafiese vermoë en aanbiedingbestuursgereedskap. Powerpoint word besit deur Microsoft.
afr_Latn_74
Gereformeerde kerk Windhoek-Suid Die Gereformeerde kerk Windhoek-Suid is die tweede oudste van die drie Gereformeerde gemeentes in die Namibiese hoofstad, Windhoek, en wat belydende lidmate betref, die grootste in die land.
afr_Latn_75
Gereformeerde kerk Windhoek Die Gereformeerde kerk Windhoek is die oudste van die drie Gereformeerde gemeentes in die Namibiese hoofstad, Windhoek. Die Gereformeerde kerk Windhoek was met sy stigting in 1937 die sesde gemeente in die destydse Suidwes-Afrika. In die distrik Windhoek, naby aan die dorpie Dordabis, het van 1935 af ook nog die gemeente Bitterwater bestaan, maar hy het in 1964 ontbind nadat daar vyf jaar vantevore reeds net 14 belydende en 13 dooplidmate was. Windhoek is dus die vyfde oudste Gereformeerde gemeente wat nog bestaan. Ook in die NG Kerk is sy Windhoekse gemeente die vyfde oudste. Dis ook die geval in die Hervormde Kerk, hoewel die Hervormde gemeente Windhoek eers op 25 November 1950 gestig is, 21 jaar ná die plaaslike NG gemeente en 13 jaar ná die Gereformeerde. Aanvanklik het die lidmate op Windhoek op verskeie plekke eredienste gehou, onder meer in huise en sale. In 1952 het die gemeente eindelik sy eie kerkgebou opgerig. Omdat dié hoekige gebou met sy plat dak se buitemure plek-plek enkelstene vertoon wat uitstaan en dit nie geverf was soos die mure nie, het die gebou die bynaam Rosyntjiebroodkerk gekry. Op 10 September 1977 het die Gereformeerde kerk Windhoek sy nuwe, ruim kerkgebou in gebruik geneem. Dié gebou van bruin bakstene kyk oor die hoofstad uit en is geleë op die hoek van Luther- en Liliencronstraat, Eros. Die argitek was Tinus du Plessis en Michiel Prinsloo, destyds die oudste Angola-Afrikaner, het die deur oopgesluit. 'n "Skatkis" van marmer is in die voorportaal geplaas vir kerkbydraes. Eers is vir 'n spesiaal ontwerpte orrel voorsiening gemaak, maar omdat die boukoste te hoog was, moes die gemeente 'n kleiner orrel aankoop. Die laaste fase van die kerkgebou is op 2 November 2002 afgehandel toe die korbeelklip in plek gelê is.
afr_Latn_76
Gereformeerde kerk Okahandja Die Gereformeerde kerk Okahandja is 'n Gereformeerde gemeente op die Namibiese dorp Okahandja. Dit is tans (2015) die 13de oudste gemeente van die Gereformeerde Kerk in Namibië.
afr_Latn_77
Gereformeerde kerk Grootfontein Die Gereformeerde kerk Grootfontein is 'n Gereformeerde gemeente op die Namibiese dorp Grootfontein. Dis amptelik op 29 Mei 1943 gestig en het sy 75-jarige bestaan in die naweek van 26 en 27 Mei 2018 gedenk. Ds. H.S. van Jaarsveld, na wie die Gereformeerde kerk Biermanskool oorspronklik Vanjaarsveld genoem is ter ere van sy baanbrekerswerk in Suidwes-Afrika, het as konsulent gehelp met die bediening van die Gereformeerdes in die noorde van die gebied. Onder sy leiding is Grootfontein in 1943 gestig, naas die gemeente Outjo (1930), die tweede oudste gemeente in die noorde. Aanvanklik het die gemeente byeengekom in die Hervormde kerkgebou, want dié kerkverband was reeds gevestig op die dorp nadat sy plaaslike gemeente op 4 September 1937 gestig is, 35 dae ná die eerste Hervormde gemeente in Suidwes, Gobabis, en 14 dae ná die tweede, Otjiwarongo. In Grootfontein se geval is die plaaslike NG gemeente (gestig in 1944) dan ook die jongste van die drie Afrikaanse Kerke. Dié Hervormde kerkgebou het die Gereformeerdes tot 1956 gebruik toe hulle hul eie kerk opgerig het. Op 17 September 1949 het die jong Gereformeerde gemeente die plaaslike munisipaliteit skriftelik vir 'n kerkerf gevra. Op 20 Mei 1950 het die kerkraad 'n gunstige antwoord ontvang. Dié erf is geleë op die geskiedkundige plek waar die Angola-Boere, onder leiding van pres. Diederik Prinsloo, van 1885 tot 1886 in die Republiek van Upingtonia gewoon het. Al die "burgers" van dié republiek was Doppers. Twee groot wildevyebome wat in 1928 as hekpale geplant is, oorskadu die voetpaadjie. In 1953 het die gemeente geld vir kerkbou begin insamel en £85 in die boufondsrekening inbetaal. In 1955 het die plaaslike Gereformeerde boere 5 persent van hul kalweroes aan die boufonds afgestaan. Die kerk het 'n brandyster gekry en al die beeste is gebrandmerk. Die boere het gratis weiding voorsien, die beeste onder toesig van die kerkraad verkoop en die geld in die boufondsrekening inbetaal. Ene Meyer, die argitek, het 'n bouplan in 1964 opgestel, wat die kerkraad dan ook goedgekeur het. 'n Boukommissie is aangestel, bestaande uit ds. E.W. Meyer, oudll. L.A. Grobler (sameroeper), N. van der Walt, P. du Toit en J.H. du Plessis. Tenders vir die oprigting van die kerkgebou is gevra en ene Harteveld van Gobabis s'n is aanvaar vir R22 000. Karel Strydom en ene Arends het die preekstoel, tafels, stoele en banke gemaak van dolfhout wat lidmate van Maroelaboom geskenk het en bykomende hout wat aangekoop is. 'n Lidmaat het later die banke oorgetrek. Ook die orrel was 'n skenking aan die kerk. 'n Ouderling en lid van die boukommissie, Jan Harm (Boet Jannie) du Plessis (gebore 28 Julie 1921, Mombolo, Angola, en oorlede 14 Mei 1984 op Walvisbaai) se vader, Lourens Marthienus du Plessis, is op 19 Junie 1886, terwyl die Dorslandtrekkers hier in die destydse Upingtonia oorgestaan het, op die grond gebore waarop die kerk gebou is. L.M. du Plessis het teruggetrek na Angola, maar is op 16 Mei 1962 op Onkoshi, Tsumeb, oorlede. Die kerkgebou is op 27 en 28 Februarie 1965 amptelik in gebruik geneem. 'n Lidmaat, Nelie Prinsloo, het die sleutel in ontvangs geneem en die deur oopgesluit. Prof. W.J. Snyman het die opening waargeneem en die gedenksteen onthul. Grootfontein is een van die opmerklike uitsonderings op die reël dat Gereformeerde Kerke in Namibië se lidmaattal in die eerste 15 jaar van die 21ste eeu betreklik bestendig gebly het, want einde 1997 was die sieletal (belydende en dooplidmate) 188, maar einde 2014 net 54.
afr_Latn_78
Gereformeerde kerk Walvisbaai Die Gereformeerde kerk Walvisbaai is 'n Gereformeerde gemeente op die Namibiese dorp Walvisbaai, maar dit sluit ook die nabygeleë Swakopmund in. Die Gereformeerde kerk Hentiesbaai het in 2006 van Walvisbaai afgestig, maar Walvisbaai se leraar is ook vir Hentiesbaai verantwoordelik. Walvisbaai se sieletal was in 2015 267, min of meer gelykop verdeel tussen Walvisbaai en Swakopmund. Eredienste word elke Sondag op albei dorpe gehou. Walvisbaai was eers 'n wyk van die Gereformeerde kerk Usakos, wat in 1953 afgestig het, waarskynlik van Windhoek. Tot 1955 is dienste op Walvisbaai in die Vrymesselaarslosie gehou en daarna in die Hofsaal, in lidmate se huis en in die Hoogenhout-skoolsaal. Die wyk het twee erwe van die munisipaliteit verkry teen £1 stuks. 'n Boufonds is gestig uit kerkgeld wat van die kerkraad van Usakos afkomstig was. Op 27 Oktober 1956 het Walvisbaai, saam met Swakopmund en Hentiesbaai, as selfstandige gemeente afgestig, met die gevolg dat so min lidmate in die gemeente Usakos oorgebly het, dit moes vier jaar later ontbind. In 1960 het die jong gemeente Jac H. van Zanten as argitek aangestel en J. Eisenberg as bouaannemer. In 1961 is 'n derde van die kerkgebou voltooi. Ses banke en 'n Nagmaaltafel is gemaak en 40 stoele is aangekoop. Ná geldinsameling en 'n skenking van ene ds. Bos van Nederland, is die gebou in 1970 volgens die oorspronklike plan van die argitek voltooi. Ds. Bos het ook die kanselkleed geskenk. Die predikant van Walvisbaai was vroeër, benewens die hoofdorp en Swakopmund, ook vir lidmate van die Gereformeerde kerk Hentiesbaai verantwoordelik, maar die gemeente word sedert omstreeks 2017 deur 'n emeritus predikant bedien. Op 8 November 2009 het die sowat honderd Gereformeerdes op Swakopmund 'n unieke kerkgebou in gebruik geneem. Die Sola Gratia-kerk is bo-op 'n plat vleuel van die plaaslike NG kerk gebou nadat die Gereformeerdes vantevore hul eredienste ná die NG lidmate se verrigtinge in dieselfde kerk moes hou.
afr_Latn_79
2015 Aboe Dhabi Grand Prix Die 2015 Formule Een Aboe Dhabi Grand Prix het op 29 November 2015 op die Yas Marina-renbaan in Aboe Dhabi plaasgevind. Dit was die negentiende wedren van die kampioenskapseisoen en is deur Nico Rosberg in sy Mercedes gewen.
afr_Latn_80
Gereformeerde kerk Tsumeb Die Gereformeerde kerk Tsumeb is 'n Gereformeerde gemeente op die Namibiese dorp Tsumeb, maar dit sluit ook die dorpe Oshakati (waar die plaaslike Gereformeerde gemeente net van 1988 tot 1990 bestaan het), Ruacana en Namutoni in. Die Gereformeerde kerk Tsumeb is op 26 Maart 1955 gestig, in dieselfde jaar as die gemeentes Otjiwarongo en Biermanskool (destyds bekend as Vanjaarsveld). Eers is eredienste in die laerskoolsaal gehou, terwyl die sportterrein benut is as kampeerplek vir kerklike aktiwiteite. In 1957 het die kerkraad 'n erf by die plaaslike myn, die Tsumeb Corporation, aangekoop vir die nominale bedrag van £1. Eredienste is in daardie stadium in die Hervormde gemeente, wat op 2 Desember 1950 gestig is, se kerkgebou gehou. Die plan van Nelspruit se kerk is as bouplan vir 'n saal/kerk voorgestel, maar die gemeente het nie toe al tot bou gekom nie. In 1960 is 'n vergadering gehou om te sluit of die gebou 'n saal of kerk sou wees, maar 'n finale besluit is nie geneem nie. In 1962 het die gemeente weer aandag aan kerkbou gegee en J.P. van Graan, 'n myningenieur, het die plan opgestel, waarna die munisipaliteit dit goedgekeur het, maar nog twee jaar sou verloop voor die bouwerk eindelik begin het. Weens dié tydsverloop moes 'n nuwe plan opgestel en goedgekeur word. 'n Lidmaat, B. Hurter, was die argitek, terwyl Van Zyl en Schwalm as bouaannemer aangestel is. Die gebou wat die gemeente eindelik gekry het, is 'n A-raam-tipe met 'n staalraam en lae vensters, sonder 'n toring. Nog 'n lidmaat, ene Strydom, was verantwoordelik vir die maak van die banke. Die kerkerf is in 1966 geproklameer en op 4 Maart 1967 is die kerkgebou in gebruik geneem. Op daardie dag het dit so gereën, die amptelike seremonie waartydens die deur oopgesluit sou word, kon nie plaasvind nie. In 1978 het die gemeente besluit om die kerkgebou te vergroot. 'n Orrel, soortgelyk aan Grootfontein s'n, is uit Suid-Afrika bestel, nes die nuwe kerkbanke. Die orrel wat later afgelewer is, was tweedehands. Die kerkraad het dit aanvaar, maar daar is vergeet om die swelkas saam te stuur. Reëlings moes toe getref word om dit met 'n militêre vliegtuig tot op Grootfontein te bring. Dié eienaardige voorwerp het heelwat konsternasie onder die weermag veroorsaak omdat dit (vir hulle) na 'n Russiese militêre voorwerp gelyk het. Ná heelwat mooipraat kon die gemeente darem toe hul orrel se swelkas kry.
afr_Latn_81
Hendrik Gerhardus Stoker Hendrik Gerhardus Stoker (1899–1993) was 'n Calvinistiese filosoof. Hy is bekend daarvoor dat hy 'n eie wysgerige stelsel Wysbegeerte van die Skeppingsidee (1933) daargestel het. Johan Heyns het in "Denkers deur die eeue" Stoker as die grootste filosoof beskou wat Afrika opgelewer het.
afr_Latn_82
Sekhukhune Sekhukhune, ook gespel Sikukuni of Sekoekoeni (1814 – 13 Augustus 1882) was koning van die Marota. Sy ryk was geleë tussen die Limpopo- en Vaalrivier in die hedendaagse Suid-Afrikaanse provinsie Limpopo.
afr_Latn_83
Atterbury Property Holdings Atterbury Property Holdings (meer bekend as net Atterbury of "Atterbury Property") is 'n eiendomsmaatskappy wat in 1994 deur Louis van der Watt en Francois van Niekerk in Pretoria gestig is. Die maatskappy se hooffokus is op die ontwikkeling van kleinhandelsentrums en handelsgeboue, maar residensiële eiendom word ook ontwikkel. Atterbury was die medestigter van Attfund ('n ongenoteerde plaaslike winkelsentrumfonds) in 2002, maar dit is aan Hyprop verkoop in 2011. In 2005 is Attacq gestig, waarvan sy belangrikste bates sy aandeelhouding in Attfund en ander ontwikkelings is. Attacq is in 2013 op die JSE genoteer. AttAfrica is in 2012 gestig, 'n fonds wat verskeie winkelsentrums dwarsoor Afrika ontwikkel het en besit.
afr_Latn_84
Gereformeerde kerk Hentiesbaai Die Gereformeerde kerk Hentiesbaai is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Namibië op die kusdorp Hentiesbaai. Dit was, 16 jaar nadat Namibië onafhanklik geword het, die eerste nuwe Gereformeerde kerk wat in dié land gestig is. Die gemeente het einde 2014 'n sieletal van 58 gehad, die sesde kleinste Doppergemeente in die land.
afr_Latn_85
Sweetpak 'n Sweetpak is 'n stel sportklere bestaande uit 'n broek (oefenbroek) en 'n baadjie met 'n ritssluier. Hoewel dit gemaak is om in te oefen of om na 'n oefening te dra om die liggaam warm te hou, word sweetpakke ook dikwels gedra as vryetydskleding. Meeste Suid-Afrikaanse skole stel sweetpakke in hul skoolkleure beskikbaar vir leerders wat ekstra-kurrikulêre sportaktiwiteite beoefen. Deur hiphop-groepe soos Run-D.M.C. word (veral Adidas) sweetpakke ook geassosieer met hiphop-kultuur. Sweetpakke word deurgaans van katoen, nylon, poliëster of mikrovesel gemaak. Kombinasies van materiale word ook dikwels gebruik. Baie vervaardigers kies materiale wat lig dra, groot beweeglikheid verleen en sweet absorbeer en/of afweer.
afr_Latn_86
Wildekomkommer Die wildekomkommer (Cucumis Myriocarpus) is 'n plantspesie wat deel is van die Cucurbitaceae-familie.
afr_Latn_87
Austin-Bergstrom Internasionale Lughawe Austin–Bergstrom Internasionale Lughawe (IATA: AUS, ICAO: KAUS) is 'n internasionale lughawe geleë in Austin, die hoofstad van Texas, in die Verenigde State, en bedien die groter Austin metropolitaanse gebied, die 34 grootste metropolitaanse gebied in die Verenigde State. Geleë ongeveer agt kilometer suidoos van die middestad van Austin, dit dek 1717 hektaar en het twee aanloopbane en drie helikopterlandingsplekke. Dit is op dieselfde terrein wat voorheen die Bergstrom Lugmagbasis was. Die lughawe en lugmagbasis is vernoem na kaptein John Augustus Earl Bergstrom, 'n offisier wat in die 19 Bombardementgroep gedien het. Die lughawe vervang Robert Mueller Munisipale Lughawe as die belangrikste lughawe in Austin. 'n Totaal van 13 570 711 passasiers het deur Austin–Bergstrom Internasionale Lughawe beweeg in 2021. Die lughawe is nou die 34 besigste lughawe vir totale passasiers in die Verenigde State.
afr_Latn_88
Saadat Hasan Manto Saadat Hasan Manto (/ mɑːn,-tɒ /; Oerdoe: سعادت حسن منٹو, uitspreek [sa'ādat 'hasan' Manto]; 11 Mei 1912 - 18 Januarie 1955) was 'n Pakistani skrywer, dramaturg en outeur wat as een van die grootste skrywers van kortverhale in die Suid-Asiatiese geskiedenis bekend is. Hy het 22 bundels van kortverhale, 1 roman, 5 reeks van radiotoneelstukke, 3 versamelings van opstelle en 2 versamelings van persoonlike sketse geskep. Sy beste kortverhale word gereeld deur party skrywers en kritici geprys. Party van sy werke is ook in 'n paar verskillende tale vertaal. Manto is op drie keer vir onwelvoeglikheid beskuldig; drie maal voor 1947 in Brits-Indië, en drie maal na onafhanklikheid in 1947 in Pakistan, maar hy is nooit deur die regters aangekla nie.
afr_Latn_89
Gurdas Maan Gurdas Maan (Pandjabi: ਗੁਰਦਾਸ ਮਾਨ) is 'n Pandjabi sanger, liedjieskrywer en akteur. Hy is bekend as een van die mees noemenswaardige sangers van die Pandjabi-taal. Hy is in die Indiese dorpie van Giddarbaha in die deelstaat van Pandjab gebore. In 1980 was sy liedjie "dil da maamla hai" 'n groot nasionale sukses. Hy het verskeie rolle in beroemde Pandjabi-talig rolprente soos "Shaheed-e-Mohabbat Boota Singh" gespeel.
afr_Latn_90
Gereformeerde kerk Centurion Die Gereformeerde kerk Centurion is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die Centurion-gebied van Gauteng. Einde 2014 was dit met 1 009 belydende lidmate die vierde grootste gemeente in dié kerkverband en een van net vier met meer as duisend belydende lidmate. In daardie jaar was die grootste sowel as derde grootste Gereformeerde gemeente ook in die groter Pretoria: Wapadrant met 1 689 belydende lidmate en Rietvallei met 1 369. Randburg was toe met 1 408 belydende lidmate die tweede grootste landwyd. Die gemeente het op 1 Junie 1975 ontstaan toe dit as Verwoerdburg-Oos van die Gereformeerde kerk Lyttelton afgestig het. Die lidmaattal met afstigting was sowat 500. Twee en 'n half jaar later, op 1 Januarie 1978 is die naam van die gemeente na Verwoerdburg-Noord verander om die ligging van die gemeente beter te weerspieël. Aan die begin is dienste in verskeie skoolsale gehou terwyl die kerkraad grond gekoop en 'n kerkgebou beplan het onder ds. P.J.J.S. (Pieter) Enslin se leiding. 'n Kleinhoewe is gekoop en mettertyd hersoneer sodat dit eindelik 'n kerkgebou, 36 wooneenhede en 'n woning (vroeër 'n pastorie) bevat het. Die kerkgebou, wat in gebruik geneem is op 15 en 16 September 1979 en ontwerp is deur Renier Roos met Coen Vlietstra as bouvoorman, bied sitplek aan sowat 600 kerkgangers. Aan die noordoostelike kant is 'n sterk betonbalk gegiet sodat die muur onder dié balk verwyder kan word om die kerkruimte uit te brei. Dis dan ook in 2011 gedoen en 'n kerksaal, wat die kerkruimte byna verdubbel, is aan die noordoostelike kant aangebou met 'n groot kombuis en yslike stoep waar ná eredienste heerlik gekuier word. Die orrel is aan die sykant van die gebou geplaas waar dit min of meer sentraal is ten opsigte van die huidige kerkruimte, maar sonder dit nodig sal wees om dit te verskuif as die kerkgebou dalk eendag vergroot moet word. Die kerkklok is bekom uit 'n kerkgebou wat nie meer in gebruik was nie en is met 'n helikopter in die kerktoring geplaas. Die gemeente het op 1 Januarie 1999 'n tweede naamsverandering ondergaan toe die naam Centurion geword het. Vanweë die gemeente se groei (einde 2001 was die sieletal byvoorbeeld 1 053 en einde 2014 1 295) moes katkisasielokale gebou word wat op 30 Julie 2000 in gebruik geneem is.
afr_Latn_91
Fariduddin Ganjshakar Khwaja Fariduddin Masud Ganjshakar (Farīduddīn Masūd Ganjshakar; Punjabi: , 1173–1266) of net Baba Farid Ganjshakar (Punjabi, lett.: 'Tesourie van Suiker / Soetheid') was 'n bekende Soefi-prediker, mistieke digter en 'n heilige van die Tjisjti-geloof van Suid-Asië.
afr_Latn_92
Gereformeerde kerk Wapadrant Die Gereformeerde kerk Wapadrant is tans (2016) die grootste gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Einde 2014 het die gemeente 1 689 belydende en 534 dooplidmate gehad, vergeleke met onderskeidelik 1 250 en 418 einde 2001. Dit was een van net vier Gereformeerde kerke met meer as duisend belydende lidmate. Die gemeentegrense omsluit voorstede soos Faerie Glen se uitbreidings, Garsfontein, Mooikloof, Wapadrand en Woodhill. Wapadrant is in 1983 gestig. Die kerkraad het heel gou besluit om 'n eie kerkgebou op te rig, wat moontlik was danksy 'n bruidskat, milde bydraes en enkele eiendomstransaksies. In die beplanning is besluit die kerkgebou moes 'n plek wees van samekoms, aanbidding, lofprysing en deling; daarom moes die kerk iets van die gemeente se karakter weerspieël. Die gemeente het 'n perseel van 4,4 hektaar aangekoop wat 'n lidmaat, P. van der Zee, teen 'n billike prys bekom het. Die statige woonhuis op die perseel in Sunriseweg, Olympus, is behou as kantoor en vergaderplek, 'n Aangeboude woonstel dien as administratiewe kantore. Die kerkgebou is ontwerp deur die argitek Jan Meijer, 'n lidmaat van die gemeente. In Januarie 2016 het Wapadrant die volgende verklaring uitgereik na aanleiding van die besluit van die Algemene Sinode om nie vroue in die amp van ouderling of predikant toe te laat nie: "Die Gereformeerde Kerk Wapadrant het met hartseer kennis geneem van die besluit van die Januarie 2016 Buitengewone Sinode van die GKSA rakende vroue in die ampte van ouderling en predikant. Die saak van vroue as leiers in die gemeente, en dan in die besonder in die ampte van diaken, ouderling en predikant, is vir Wapadrant 'n gewetensaak voor die Here, soos vanuit ons verstaan uit die Heilige Skrif deur Jesus Christus en is ons dus oortuig dat vroue in al die besondere ampte mag dien. Daarom het die kerkraad van Wapadrant besluit om by sy besluit van 2006 te hou om persone, ongeag geslag, in al drie die ampte te mag bevestig. Wapadrant is steeds oortuig dat die Here mense roep volgens gawes en daarom mag ons steeds mans en vroue, volgens gawes, bevestig as diaken, ouderling en predikant. Ons pleidooi is dat die kerkverband, Wapadrant en gemeentes met dieselfde oortuiging in liefde sal aanvaar en saam die koninkryk van regverdigheid, vrede en vreugde (Romeine 14:17) sal dien. Verder vertrou ons die gemeente se toekoms aan die Here toe."
afr_Latn_93
Gereformeerde kerk Rietvallei Die Gereformeerde kerk Rietvallei is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die suidooste van Pretoria. Met 1 369 belydende en 361 dooplidmate einde 2014 was dit toe die derde grootste Gereformeerde kerk; net Wapadrant en Randburg was groter, terwyl die enigste ander gemeente met meer as duisende belydende lidmate Centurion was met 1 009. 'n Jaar later het Rietvallei se belydende lidmate teruggesak tot 1 109. Centurion het toe 1 006 gehad, Randburg 1 436 en Wapadrant 1 669 sodat Rietvallei steeds die derde grootste was wat belydende lidmate betref.
afr_Latn_94
Gereformeerde kerk Waterkloofrand Die Gereformeerde kerk Waterkloofrand is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die ooste van Pretoria wat voorstede soos Brooklyn-Suid, Erasmuskloof, Nieuw-Muckleneuk, Sterrewag, Waterkloof en Waterkloofrif insluit. Einde 2014 het die gemeente 297 belydende en 77 dooplidmate gehad, vergeleke met onderskeidelik 345 en 112 einde 2001. Einde 2015 het dit toegeneem tot 314 belydend en 85 doop.
afr_Latn_95
Afkykontwerp Afkykontwerp (ook truwaartse ontwerp of terugingenieuring) is dié proses waartydens 'n produk ondersoek word om te sien wat dit doen en die interne werking daarvan te bepaal. Die kuberwoordeboek verklaar die term soos volg: reverse engineer [v] terugingenieur, teruggenieur, demonteer en rekonstrueer, ontrafel; reverse engineering [n] truwaartse ontwerp, terugingenieuring, teruggenieuring, omgekeerde ontwikkelingwerk, ontrafeling; dekompilering (bv. van programmatuur). Volgens Pharos se English-Afrikaans Woordeboek: "reverse engineering 1. omgekeerde ontwikkelingswerk, demontering en rekonstruering; 2. (in rekenaarwese) ontmanteling (van programkodes). Die proses behels meestal dat die produk uitmekaargehaal (gedemonteer) word om die komponente te bepaal en die werking daarvan te ontleed. Dit word soms gedoen om 'n mededingende produk te skep (rekonstruering). 'n Bekende voorbeeld is Compaq se eerste persoonlike rekenaar. Hulle kon nie IBM se BIOS-vlokkie kopieer sonder om hulself aan kopiereg-wetgewing skuldig te maak nie. Deur truwaartse ontwerp op 'n IBM-PC se BIOS-vlokkie toe te pas, kon hulle daarin slaag om 'n Compaq-rekenaar te bou wat soos 'n IBM-PC funksioneer. As gevolg hiervan kon dieselfde sagteware op die Compaq-PC loop. Die prys van die rekenaar was egter laer as dié van IBM PC. Hierdie metode is deur talle ander maatskappye toegepas, soveel so dat die meeste rekenaars deesdae gekloonde IBM-rekenaars is. Afkykontwerp is 'n wettige manier van ontwikkeling, maar moet (dikwels) onder streng wetlike voorwaardes plaasvind. As voorbeeld, 'n ingenieur wat geen kennis van die oorspronklike produk het nie moet, aan die hand van die instruksies wat deur die party wat die truwaartse ontwerp toegepas het, die produk weer inmekaar sit. Die lisensievoorwaardes van kommersiële sagteware verbied meestal die dekompilering, uitmekaarhaal of terugingenieuring daarvan.
afr_Latn_96
Gereformeerde kerk Derdepoort Die Gereformeerde kerk Derdepoort is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in Pretoria wat voorstede soos East Lynne, Jan Niemandpark en Waverley-Oos insluit.
afr_Latn_97
BIOS BIOS, 'n akroniem vir Basic Input/Output System, is 'n biblioteek met 'n stel basisinstruksies vir die eerste kommunikasie tussen die hardeware en die bedryfstelsel. Tydens die opbring van 'n persoonlike rekenaar, wanneer die bedryfstelsel nog nie gelaai is nie, is dit ook die enige sagteware wat beskikbaar is. As 'n rekenaar aangeskakel word, voer die BIOS 'n POST-roetine (Power-On Self-Test) uit. As alles reg lyk, dra die BIOS beheer na die selflaaisektor (bootloader) oor om die bedryfstelsel te laai. Die selflaaisektor kan gewoonlik op die eerste sektor van 'n aanwesige hardeskyf gevind word.
afr_Latn_98
Gereformeerde kerk Akasia Die Gereformeerde kerk Akasia is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerk in die noorde van Pretoria.
afr_Latn_99

No dataset card yet

Downloads last month
5